Man wat glo vrou, seun verwurg se saak uitgestel

Kobus Engelbrecht wat glo in Mei vanjaar deur sy pa verwurg is. Foto: Facebook

Die man van Linden, Johannesburg, wat sy vrou en kwadruplegiese seun glo verwurg het, se saak is uitgestel tot 19 Augustus.

Ben Engelbrecht se regspan sal tydens sy volgende verskyning aansoek doen om sy borgvoorwaardes te laat hersien. Engelbrecht is in Julie vanjaar op borgtog van R20 000 vrygelaat nadat hy glo die vorige maand sy vrou, Ina, en seun, Kobus, met serpe verwurg het. Engelbrecht het hierna selfmoord probeer pleeg toe hy homself in sy motor probeer vergas het. Engelbrecht se seun, Kobus, was in ʼn rolstoel nadat hy op skool tydens ʼn rugbywedstryd ernstig beseer is. Volgens Engelbrecht se huidige borgvoorwaardes moet hy een keer per week ʼn sielkundige besoek en by die Linden polisiekantoor aanmeld. Engelbrecht se regspan voer egter aan dat die sielkundige gelukkig is met sy vordering en dat dit net nodig is dat hy hulle elke tweede week besoek. Die direkteur van openbare vervolging sal tydens Engelbrecht se volgende hofverskyning moet besluit of die saak na die hooggeregshof verwys moet word en waarvoor Engelbrecht aangekla moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.