Die Johannesburgse man wat glo sy vrou en kwadruplegiese seun met ʼn serp verwurg het, is Woensdag in ʼn motorongeluk dood.
Beeld berig dat Ben Engelbrecht (52) Woensdagoggend omstreeks 7:50 in ʼn silwergrys BMW 323i op die Villierspad (R54) in die rigting van Vereeniging gery het toe hy reg van voor teen ʼn vragmotor gebots het. Hy is op die toneel dood. Engelbrecht se broer, Stoffel, het aan Beeld gesê hulle skakel nie die moontlikheid dat hy selfmoord gepleeg het uit nie. Engelbrecht se verhoor sou Maandag in Johannesburg begin het. Hy het glo op 27 Mei verlede jaar sy vrou, Ina (49), en seun, Kobus (21) met ʼn serp verwurg in hul huis in Linden, Johannesburg. Hy het homself hierna in sy motor probeer vergas maar het oorleef. Kobus het in Mei 2007 sy nek in ʼn rugbywedstryd gebreek en was daarna ʼn kwadrupleeg. Engelbrecht is in Julie verlede jaar op borgtog van R20 000 vrygelaat. Hy het weer in Februarie in die hof verskyn toe die saak na die Johannesburgse hooggeregshof oorgeplaas is vir verhoor.
Lees meer hier.