ʼn Man is tronkstraf opgelê nadat hy ʼn belastingbeampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wou omkoop en hierna met die dood gedreig het.
Humphrey Ngundwe is Woensdag effektief tot 15 jaar tronkstraf gevonnis in die Germiston-streekshof. Ngundwe is 10 jaar gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan korrupsie en ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf weens intimidasie. Ngundwe het in 2008 ʼn vals BTW-eis van R400 000 by SAID ingedien. ʼn Belastingbeampte het Ngundwe gevra vir verdere dokumentasie waarna Ngundwe die beampte omkoopgeld van R20 000 aangebied het. Die belastingbeampte het dit aan die owerheid gerapporteer waarna ʼn lokval vir Ngundwe gestel en hy in hegtenis geneem is. Ngundwe is op borg vrygelaat nadat sy hofsaak begin het maar is kort hierna weer in hegtenis geneem nadat hy die belastingbeampte gekontak en met die dood gedreig het. Hy is hierna van intimidasie ook aangekla. Ngundwe bly in aanhouding hangende ʼn aansoek om appèl.