Man wat meisie buite Louise se skool probeer gryp Vrydag in hof

ʼn Man wat na bewering probeer het om ʼn 18-jarige meisie buite dieselfde skool te ontvoer waar Louise de Waal ontvoer is, sal Vrydag in die Roodepoort landdroshof verskyn.

Die 21-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy glo die meisie voor die Hoërskool Die Burger in Florida probeer ontvoer het. Die meisie het glo op ʼn sypaadjie voor die skool gesit toe die man haar glo met ʼn skroewedraaier gedreig het en haar in sy kattebak probeer dwing het. ʼn Veiligheidswag by die skool het gesien wat gebeur en het die polisie in kennis gestel. ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Pinky Tsinyane, sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagte by ander sake in die area betrokke was. De Waal is verlede week Woensdag ontvoer en haar verkoolde lyk is later die middag op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind. Haar vermeende moordenaar, Johannes Jacobus Steyn, het vlugtig in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot Desember. Die Gautengse departement van onderwys sê intussen hy het die polisie versoek om buite die skool te patrolleer. ʼn Woordvoerder, Charles Phahlane, sê die LUR van onderwys in Gauteng, Barbara Creecy, het Donderdag ʼn program bekendgestel vir die patrollering van skole in die provinsie. Volgens die programme sal skole van sekuriteit verskaf word afhangende van hulle “risiko profiel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.