Man wat meisie ná MXit-ontmoeting ‘verkrag’, borg geweier

’n Man wat glo ’n 13-jarige Pretoriase meisie verkrag het nadat hy haar deur die sosiale netwerk MXit ontmoet het, is verlede week borgtog geweier.

Die hoërskoolmeisie het op 12 Maart stokkiesgedraai en met die man gereël om haar by haar huis in die Silver Lakes-gholflandgoed in die ooste van Pretoria, te ontmoet. Hulle het glo ’n geruime tyd op MXit gepraat. Sy was onder die indruk dat hy ʼn jong man was. Toe die meisie die deur oopmaak, het sy besef hy is baie ouer as wat sy gedink het. Die meisie het die deur probeer toedruk, maar die man het die deur oopgedwing en haar na bewering verkrag.

Beeld berig die 44-jarige man van Elsburg aan die Oos-Rand het Donderdag in sy borgtogverklaring in die Pretoriase streekhof gesê hy sal skuld op die aanklag ontken.

Luidens sy verklaring besit hy ’n motorwerkwinkel en het hy ’n dogter van 16 jaar oud. Hy is geskei en bly by sy ma. “Ek het die klaagster op MXit ontmoet. Haar persoonlike detail is onbekend aan my en myne aan haar. Ná verskeie niksseggende gesprekke deur MXit het sy my genooi om vir haar te kom kuier by haar woning in die Silver Lakes-gholflandgoed,” het die man in sy verklaring verduidelik.

Volgens hom het hy op 12 Maart die kompleks openlik binnegery. “In geen stadium het ek probeer om my identiteit te verbloem nie. Ek het vir ʼn rukkie by die meisie ‘gekuier’ voordat ek gery het.”

Die man het bygevoeg dat die meisie hom ná die tyd laat weet het hy moet haar nie weer kontak nie, waaraan hy gehoor gegee het. Hy het gesê hy het met ’n prokureur gereël dat hy homself aan die polisie oorgee, nadat hy gehoor het van die ondersoek teen hom. Die saak is tot later die maand uitgestel vir die uitslag van DNS-toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.