ʼn Man wat glo onder die invloed van dwelmmiddels was, is in hegtenis geneem nadat hy glo metamfetamien-tablette by ʼn verligtingsentrum aan vloedslagoffers in Thailand wou skenk.
“Jakrit Mukpradab (39) het Maandag met 11 metamfetamien-tablette by ʼn skenkingstent in Chonburi opgedaag,” het Pawat Lertmukda, plaaslike streekshoof, gesê. Hy sê Jakrit het aan die vrywilligers gesê hulle kan die dwelms verkoop en die geld gebruik om die slagoffers te help.
Pawat het Dinsdag gesê die man is aan die polisie oorgegee en sal aangekla word van die besit van dwelmmiddels. Hy kan tot 10 jaar tronkstraf opgelê word.
Meer as 61 mense is sedert die begin van die jaar dood in vloede regoor Thailand. Meer as 3.6 miljoen mense is deur die vloede geraak.