Mandela, die ANC en die WVK-verslag

Nelson Mandela tydens die Rivonia-verhoor Foto: SA History Online

‘n Opname van Mandela se toespraak wat hy aan die begin van die Rivonia-verhoor gelewer het, volg onderaan die berig. ‘n Video van ‘n kranslegging wat in 2013 vir die slagoffers gehou is volg ook onderaan die berig. Oudpresident Nelson Mandela het in 1944 by die ANC aangesluit en was betrokke by die totstandkoming van die party se jeugliga.

Mandela was deel van die weerstand teen die Nasionale Party se apartheidsbeleid en is in 1952 as nasionale hoof van die Defiance Campaign gekies. Hy het deur die land gereis om teenstand teen die apartheidsregering te organiseer. Mandela is in hegtenis geneem en tot nege maande harde arbeid gevonnis wat vir twee jaar opgeskort is. Hy is in 1955 weer in hegtenis geneem op aanklag van hoogverraad. Hy is egter in Maart 1961 vrygespreek.

Op 21 Maart 1960 is 69 mense doodgeskiet nadat hulle ʼn optog na die Sharpeville-polisiekantoor gelei het om protes aan te teken teen die passtelsel. Die voorval is gevolg deur die afkondiging van ʼn noodtoestand en die ANC en die PAC wat verbied is om enigsins aktief te wees. Die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we Sizwe (MK) is kort hierna gestig om die land gewelddadig oor te neem. Mandela is weer in 1962 in hegtenis geneem nadat hy oorsee gereis het om steun te werf vir die gewapende stryd. Hy is tot vyf jaar tronkstraf en harde arbeid gevonnis.

Die polisie het in 1963 op die kleinhoewe Liliesleaf, die ANC en MK se “geheime wegkruipplek” in Rivonia, Johannesburg toegeslaan waar hulle inkriminerende dokumente gevind het. Verskeie leiers van die ANC en Umkhonto weSizwe (MK) is in hegtenis geneem. Mandela, wat reeds besig was om tronkstraf uit te dien, verskyn op 9 Oktober 1963 saam met tien ander beskuldigdes in die Paleis van Justisie by Kerkplein in Pretoria. Hulle word daarvan aangekla dat hulle die regering omver wou werp. Een van die beskuldigdes word ʼn staatsgetuie, maar vlug oorsee voor hy kan getuig. Op 3 Desember verskyn die oorblywende tien beskuldigdes in die hof en die sogenaamde Rivonia-verhoor begin. Hulle is aangekla van sabotasie, sameswering om die regering omver te werp en die verlening van bystand aan ‘n gewapende inval in Suid-Afrika.

Onder die dokumente wat by Liliesleaf gekonfiskeer is, was ‘n dokument oor ‘Operasie Mayibuye’. Die dokument is destyds in die hof beskryf as ʼn bloudruk vir die oorname van landsbewind deur onder meer guerilla-oorlogvoering. Die plan sou in vier kerngedeeltes van die land afskop. Die gebiede is Port Elizabeth tot Mzimkulu, Port Shepstone tot Swaziland, Noordwes-Transvaal, en Noordwes-Kaap tot Suidwes. Volgens die plan moes vier groepe van 30 man elk gelyktydig per skip of vliegtuig in die gebiede aangekom het en moes daar genoeg wapens tot hul beskikking wees. Daar moes ook genoeg wapens wees vir die plaaslike bevolking wat met die guerilla-eenhede sou saamwerk. Volgens die plan sou die vier groepe deur 2 000 opgeleide vegters in elk van die eerste drie teikengebiede en 1 000 vegters in die Noordwes-Kaapland ingewag word. Die voorgestelde teikens was strategiese paaie, spoorlyne, kragsentrales, polisie- en millitêre saamtrekpunte en belangrike nywerheidsinstallasies. Die plan is nooit tot uitvoer gebring nie.
In Junie 1964 word Mandela tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Mandela is van 1964 tot 1982 by Robbeneiland aangehou waarna hy na die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad oorgeplaas is. Hy is in 1988 na die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl oorgeplaas. Die ANC is op 2 Februarie 1990 ontban en Mandela is nege dae later, op 11 Februarie, vrygelaat. Min mense is bewus daarvan dat hy vroeër vrygelaat sou geword het as hy bereid was om geweld af te sweer. Hy is in 1991 tot leier van die ANC verkies.

Op 27 April 1994 word Mandela tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing as die land se eerste swart president verkies. Die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) is in 1995 gestig om ondersoek in te stel na menseregteskendings vanaf 1960 tot 1994. Die WVK se bevindinge is op 21 Maart 2003 in ʼn omvattende verslag uitgereik. Die verslag het ʼn reeks uiteenlopende groepe aanspreeklik gehou vir die wandade in dié tydperk. Die verslag is egter ook uit verskeie oorde gekritiseer.

Die verslag het bevind dat die staat – in die vorm van die Nasionale Party-regering, die staatsdiens en sy veiligheidsmagte – die meerderheid erge skendings in dié tyd gepleeg het. Dit sluit onder meer marteling, ontvoering, die ongeoorloofde gebruik van dodelike geweld in situasies waar ligter maatreëls voldoende sou wees, en sluipmoorde in. Daar is ook bevind dat die veiligheidsmagte met ander politieke groepe saamgewerk het. Daarenteen het die WVK bevind dat die ANC verantwoordelikheid vir alle aksies wat deur lede van Umkhonto weSizwe (MK), wat onder sy bevel was, aanvaar het in die tydperk 1961 tot Augustus 1990. Volgens die verslag was daar in die tyd verskeie aksies – spesifiek die plasing van kleef- en landmyne – wat tot sterftes onder burgerlikes gelei het. Die WVK het bevind dat die burgerlikes wat vermoor of beseer is tydens die aksies, ondanks die ANC se regverdiging van die aksies, die slagoffers van growwe menseregteskendings was. Die WVK het verder bevind dat hoewel die teiken van burgerlikes nie ANC-beleid was nie, MK-operasies gelei het tot die dood van meer burgerlikes as lede van die veiligheidsmag. Die kommissie se verslag het spesifiek verwys na die Kerkstraat-bom in Pretoria in 1983 waartydens 19 mense dood en meer as 200 beseer is. Volgens die kommissie was dit ʼn voorval waar die onderskeid tussen millitêre en burgerlike teikens vervaag het en het dit gelei tot growwe menseregteskendings naamlik burgerlikes wat beseer of dood is.

Talle burgerlikes het in verskeie bomontploffings in die 1980’s omgekom. Op 23 Desember 1985 is twee vrouens en vier kinders in ʼn ontploffing by die Sanlam-winkelsentrum (die destydse Toti Centre) in Amanzimtoti dood. Op 14 Junie 1986 is drie mense dood en meer as sestig beseer in ʼn bomontploffing by Magoo’s Bar in Durban. Daar was ook talle bomontploffings by verskeie Wimpy-eetplekke in die tydperk waarin talle mense dood of beseer is. Die Waarheid- en Versoeningskommissie het ook bevind dat die ANC se landmyn-veldtog tussen 1985 en 1987 in die Noord- en Oos-Transvaalse platteland nie verskoon kan word nie, aangesien dit tot ernstige menseregtevergrype gelei het, insluitend plaasarbeiders en kinders wat in die aanvalle gesterf het of beseer is. “Die ANC word aanspreeklik gehou vir hierdie ernstige skending van menseregte.” In een van die aanvalle op 16 Desember 1985 is ses mense dood nadat hulle bakkie ʼn landmyn op ʼn wildsplaas naby Messina afgetrap het. Kobie van Eck (34), haar kinders Ignatius (2) en Nellmarie (8), en Marie Denyschen (59) en haar kleinkinders Kobus (3) en Karna (9), het in dié ontploffing omgekom. Dirk van Eck en sy seun Erick het die aanval oorleef.

Volgens die kommissie het daar spesifiek in die 1980’s ʼn groot aantal menseregteskendings plaasgevind en is van die aanvalle nie deur ANC-lede gepleeg nie maar deur burgerlikes wat hulself as ANC-ondersteuners gesien het. “In hierdie verband bevind die kommissie dat die ANC moreel en polities aanspreeklik gehou word vir die skep van ʼn klimaat waarin sodanige ondersteuners geglo het hulle optrede is wettig en dat dit uitgevoer word binne die breë parameters van die ‘mense se oorlog’ soos verwoord deur die ANC.”

Herman Toerien, ʼn rubriekskrywer, het onlangs geskryf:
“Baie groepe, hoewel nie noodwendig almal nie, het een gemene deler – ‘n persepsie dat Madiba die groot vredemaker was, wat die grootste versoener van die moderne geskiedenis is, wat vrede en harmonie nagestreef het (en tydens die rugby-wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika vir baie ‘n yslike vredesrubicon oorgesteek het en ‘n Springboktrui aangetrek het). In hierdie euforiese wêreld word die ander weergawe oor landmyne op plaaspaaie en bomme in openbare plekke eenvoudig nie gehoor nie. Dit is ook ‘n beeld wat skoolleerplanne onverdund oordra, en dit is ook die euforiese beeld wat die buitewêreld het, soos blyk uit die beriggewing oorsee. Met Mandela se afsterwe is hierdie gemene deler nie meer daar nie. Dit word juis as een van Mandela se grootste flaters gereken dat hy nie toegesien het dat die leiers na sy uittrede dieselfde beeld kon uitdra nie.”.

AfriForum Jeug het in Januarie 2013 ‘n kransleggingseremonie in Pretoria gehou ter nagedagtenis aan die mense wat in die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes gedurende die tagtigerjare gesterf het. Klik hier om meer te lees. ‘n Video van die kranslegging volg onderaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae