Mandela-diens: Tolk was ‘n “bedrieër”

Barack Obama tydens sy huldeblyk by die gedenkdiens. Die tolk staan regs van hom. Foto: Alon Skuy, SAPA

Barack Obama tydens sy huldeblyk by die gedenkdiens. Die tolk staan regs van hom. Foto: Alon Skuy, SAPA

JONGSTE: Thamsanqa (Thami) Jantjie wat deur die dowe gemeenskap veroordeel word vir sy tolkwerk tydens Mandela se gedenkdiens, het aan EWN gesê hy ontvang tans behandeling vir skisofrenie. Klik hier om meer te lees.

‘n Video volg onderaan die berig. Die persoon wat Dinsdag by oud-president Nelson Mandela se gedenkdiens getolk het, word streng veroordeel deur die dowe gemeenskap.

The Limping Chicken, ʼn onafhanklike webwerf in Engeland wat nuus oor die gehoorgestremde gemeenskap publiseer, het Dinsdag berig dat die tolk se gebaretaal bevraagteken word. Charlie Swinbourne, redakteur van The Limping Chicken, sê die tolk het ʼn vreemde herhalende ritme in sy bewegings gehad. “Sy gebaretaal was herhalend en hy het sy skouers in ʼn ritme geswaai,” het Swinbourne gesê.

“Hy is ʼn algehele bedriëer,” het Cara Loening, direkteur van Gebaretaal-opleiding en -ontwikkeling in Kaapstad, Woensdag aan SAPA gesê. “Die dowe gemeenskap wêreldwyd is ontstoke.” Volgens Loening het nie een van sy gebare enigiets te doen gehad met gebaretaal nie. “Dit is soos om iemand in die straat te kry en te vra hulle moet hul hande rondswaai. Hy het ʼn bespotting van die diens gemaak.”

Talle bekende dowes in Suid-Afrika het hul frustrasie op Twitter uitgespreek.

Francois Deysel, ʼn gebaretaal-tolk van Kaapstad, het ʼn twiet aan Bruno Druchen, die nasionale direkteur van Deaf SA gerig: “Kan iemand asseblief die tolk vra om van die verhoog af te klim. Dit is ʼn vernedering en dit maak ʼn bespotting van ons beroep.”

Druchen het op Twitter bevestig die persoon het nooit amptelike opleiding gehad nie. “Dit sal egter nie ons geesdrif demp nie. Ons sal voortgaan om te versoek dat gebaretaal as ʼn amptelike taal erken word,” het Druchen gesê.

Wilma Newhoudt-Druchen, die eerste dowe vrou wat verkies is om in die Suid-Afrikaanse parlement te dien, het getwiet: “ANC-tolk op die verhoog saam met adjunk-president van die ANC, tolk nonsens. Hy kan nie tolk nie. Verwyder hom asseblief.”

Braam Jordaan, raadslid van die World Federation of the Deaf Youth Section, het aangedui dat die persoon ook by die Mangaung-konferensie getolk het.

Phumla Williams, woordvoerder vir die regering, het gesê sy kan nie dadelik op die bewerings reageer nie, aangesien sy nie weet watter departement die tolk aangestel het nie. Sy weet ook nie wat die persoon se opleiding of kundigheid is nie. “Ek sal probeer uitvind.” Sapa het later teruggeskakel en ʼn ander persoon het Williams se foon beantwoord en alle navrae na die media-kantoor verwys.

Manusha Pillai, nog ʼn woordvoerder vir die regering, het gesê dit is die eerste keer wat hulle daarvan hoor. “Ons moet uitvind wat hier gebeur het,” het Pillai aan SAPA gesê.

Klik hier en hier om nog twiets oor die tolk te lees.

Mandela het op 5 Desember by sy huis in Houghton, Johannesburg, gesterf. Hy was 95 jaar oud. Sy gedenkdiens is deur nagenoeg 100 staatshoofde bygewoon, insluitend pres. Barack Obama.

Hiermee ʼn video van die tolk by die gedenkdiens. Die vrou wat vanaf 00:00:28 op die inlasfoto tolk, is ʼn amptelike, opgeleide en geakkrediteerde tolk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

henk venter ·

Dis mos nie so moeilik om te verstaan nie. Kyk vir wie werk hy! Dit is nou mos ‘n gulde geleentheid om te kan se hy is verkeerd aangehaal!

Justi ·

Dit is nou werklik n uitstekende manier om die betrokke party se naam verder te slaan met n plank……en in die plank voor op die punt is n reuse spyker in.
Hou aan slaan……en binnekort gaan jul julself toekap.

Gerda ·

Ai tog. Kan ons nie maar net ‘n klein bietjie harder probeer om NIE soos ‘n piesang republiek te lyk in die oe van die wereld nie?

Gemsbok ·

As dit die gemors is wat die regering aanjaag terwyl hulle hul beste doen, hoef ‘n mens nie te wonder hoe die ANC se Suid-Afrika oor 20 jaar gaan lyk nie.

Hoe vinniger mense by Orania betrokke raak, hoe gouer is daar vir ons ‘n lewensvatbare alternatief buite hierdie chaos.

Sarie ·

Die hele verrigtinge was ‘n verleentheid. Daar was geen respek vir die oorledene en die dood nie. Hooggeplaastes – dit sluit FW in en familielede het kougom gekou vir die eerste span. Die twee vernaamste Westerse leiers het met die blonde Deen geflirt. Daar is geen vergelyking met die begrafnis van Verwoerd en CR Swart nie. Daar was waardigheid ,respek end orde. Wys net weer hoe laag ons morele waardes in hierdie land gedaal her.

Mari ·

How embarrassing vir SA! Met al die nuus oor hoeveel str%%nt die skare en massas aangevang het by die seremonie en nou dit ook nog!

Doris Geyser ·

Vannaand op die nuus gese. Die firma wat die man gestuur het , het soos mis in die donker verdwyn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.