Mandela en die 46664-veldtog

Nelson Mandela by die opening van die 46664 Wêreld Vigsdagkonsert

46664. Dié nommer is destyds aan oudpresident Nelson Mandela toegeken toe hy tronkstraf op Robbeneiland begin uitdien het – gevangene nommer 466 van 1964. Vandag is die vyf nommers sinoniem met die stryd teen MIV/Vigs en maatskaplike ongelykheid.

Die 46664-veldtog is in 2002 deur Mandela begin as ’n onafhanklike en nie-winsgewende veldtog. Die veldtog het hom aanvanklik toegespits op die stryd teen MIV en Vigs, maar het sedertdien uitgebrei en is vandag ʼn wêreldbekende handelsmerk wat sinoniem is met Mandela se nalatenskap.

Die veldtog fokus ook nou op die rol wat individue kan speel om die nalatenskap van Mandela vorentoe te neem deur projekte soos Nelson Mandela-dag. Die idee vir dié dag het juis tot stand gekom tydens ʼn 46664-konsert wat in Junie 2008 in Hyde Park, Londen gehou is ter viering van Mandela se 90ste verjaardag. Mandela het tydens die konsert die uitdaging aan die wêreld gerig om sy humanitêre werk voort te sit. Mandela-dag is op 18 Julie 2009 gestig en word sedertdien wêreldwyd gevier. Die Verenigde Nasies het dié dag, wat ook Mandela se verjaardag is, tot ʼn internasionale dag verklaar. Mense word op dié dag aangemoedig om 67 minute van hul tyd op te offer om vrywillige werk te doen en aan die gemeenskap terug te gee. Volgens die Nelson Mandela-stigting is daar op 67 minute besluit, aangesien Madiba 67 jaar van sy lewe gegee het vir die saak waarin hy geglo en waarvoor hy geveg het.

Annie Lennox en Will Smith by Madiba om die 46664-veldtog te ondersteun

Die 46664-handelsmerk bestaan ook uit ʼn klerereeks, armbande en selfs ʼn simkaart-beginnerspak. Mandela se tronknommer verskyn op die klerereeks. Die winste van die klerereeks word onder meer aangewend om biblioteke in afgeleë gebiede te bou. Die 46664-armbande is beskikbaar in silwer, goud en platinum. Die armbande word deur mense, wat voorheen werkloos was, gemaak terwyl die armbande se houertjies deur enkelma’s wat MIV/Vigs het, gemaak word. Mandela se tronknommer het ook as inspirasie vir dié armbande gedien. Die armbande kos tussen R1 995 en R135 600.

46664 het ook kragte met Vodacom saamgespan om fondse in te samel vir die organisasie se humanitêre projekte. ʼn Gedeelte van die fondse wat deur dié spesiale simkaart-beginnerspak ingesamel word, word aan 46664-inisiatiewe geskenk.

Die 46664-handelsmerk spog ook met verskeie ambassadeurs, waaronder plaaslike en internasionale musikante, sportsterre en glanspersoonlikhede. Suid-Afrika spog reeds met ʼn rits 46664-ambassadeurs waaronder Arno Carstens, Bongo Maffin, Cassette, Children of Agape, Chris Chameleon, Cofield Mundi, Danny K, Dozi, Freshlyground, Goldfish, Jamali, Jesse Clegg, Johnny Clegg, Jozi, Just Jinjer, Kabelo, Karen Zoid, Kim Engelbrecht, Kurt Darren, Ladysmith Black Mambazo, Leanne Manas, Louise Carver, Loyiso, Mafikizolo, Malaika, Mandoza, Mel Botes, Prime Circle, Sipho ‘Hotstix’ Mabuse, die Soweto Gospelkoor, Thandiswa Mazwai, Vusi Mahlasela, Watershed en Yvonne Chaka Chaka. Internasionaal verteenwoordig bekendes soos Alicia Keys, Anastacia, Annie Lennox, Aretha Franklin, Beyonce, Bono, Brad Pitt en Cyndi Lauper die 46664-handelsmerk. Klik hier vir video’s van bekendes wat dié veldtog ondersteun. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.