Mandela en die lewe in die tronk

Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Daar volg ‘n paar video’s in die artikel. Blaai verder af om die res van die artikel te lees.Nelson Mandela is in Junie 1964 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy het 18 van sy 27 jaar tronkstraf op Robbeneiland deurgebring.

Mandela is in ʼn klein sel opgesluit en is slegs een besoeker per jaar vir 30 minute toegelaat. Hy kon elke ses maande een brief skryf en een ontvang. In sy outobiografie Long Walk to Freedom vertel Mandela van die dag wat hy op Robbeneiland aangekom het: “Elke sel het ʼn wit karton gehad wat buite die deur opgesit is met ons name en ons gevangenisdiensnommer. Myne het gelees: ‘N. Mandela 466/64’ wat beteken het ek was die 644ste gevangene wat in 1964 op die eiland opgeneem is. Ek was 46 jaar oud, ʼn politieke gevangene met ʼn lewensvonnis, en daardie klein, beknopte ruimte sou my huis wees vir wie weet hoe lank.”

Die polisie het in 1963 op die kleinhoewe Liliesleaf, die ANC en Umkhonto weSizwe (MK) se “geheime wegkruipplek” in Rivonia, Johannesburg toegeslaan. Hulle het inkriminerende dokumente gevind wat tot die inhegtenisneming van verskeie ANC- en MK-leiers gelei het. Mandela was in dié stadium reeds besig om tronkstraf uit te dien in die Ou Fort-gevangenis in Johannesburg, nadat hy in hegtenis geneem is toe hy teruggekeer het van ʼn oorsese reis om steun te werf vir die ANC se gewapende stryd. Vir dié dade is hy tot vyf jaar tronkstraf en harde arbeid gevonnis.

In Oktober 1963 is Mandela in die sogenaamde Rivonia-verhoor van sabotasie aangekla, saam met ‘n groep ANC- en MK-leiers wat na aanleiding van die Liliesleaf-ondersoek in hegtenis geneem is. Die verhoor, wat by die Paleis van Justisie by Kerkplein in Pretoria gehou is, het in November begin en het op 12 Junie 1964 tot ʼn einde gekom. Mandela het tydens die verhoor sy geskiedkundige “Toespraak uit die beskuldigdebank” gemaak. Sy toespraak is afgesluit met:
“Ek het teen wit oorheersing geveg en ek het teen swart oorheersing geveg. Ek koester die ideaal van ’n demokratiese en vry samelewing waarin alle mense in harmonie en met gelyke geleenthede saamleef. Dit is ’n ideaal waarvoor ek wil leef en wat ek graag wil bereik. Indien nodig, is dit ’n ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf.”

Mandela is op 12 Junie 1964 tot lewenslange tronkstraf op Robbeneiland gevonnis. Robbeneiland lê sowat 8 kilometer van Kaapstad en is voorheen as ʼn psigiatriese inrigting, hospitaal en melaatse-kolonie gebruik. In sy outobiografie skryf Mandela dat sy tronksel deur ʼn klein ooghoogte venster ʼn uitsig oor die binnehof gehad het. Hy het op die vloer geslaap en ʼn emmer as ʼn toilet gebruik.

Mandela en ander gevangenes moes deur die dag klippe tot gruis kap in die binneplein. Hulle het ook in die gevangenis se tuine gewerk. Robbeneiland is in 1997 tot ‘n nasionale monument en ʼn nasionale erfenisterrein verklaar en is vandag ‘n gewilde toeristebestemming.

In 1982 is Mandela na die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad oorgeplaas. Hy is in Augustus 1985 na ʼn hospitaal geneem vir ʼn vergrote prostaatklier en is in 1988 vir tuberkulose behandel in die Tygerberg-hospitaal, waarna hy na die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl oorgeplaas is. Mandela kon daarin slaag om ʼn vergadering tussen die ANC en die NP-regering te reël.

Die ANC is op 2 Februarie 1990 ontban en Mandela is nege dae later op 11 Februarie vrygelaat. Mandela het glo tydens sy jare in die tronk minstens drie aanbiedings om vrylating van die hand gewys. Hy was na sy vrylating betrokke by gesprekke tussen die ANC en die regering en is in 1991 tot leier van die ANC verkies. Hy is op 27 April 1994 tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing as die land se eerste swart president verkies.

Mandela het in die ouderdom van 95 op Donderdag 5 Desember omstreeks 20:50 vreedsaam heengegaan by sy huis in Houghton, Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize Mans ·

Hoekom moet ons nou weer al hierdie drama sien en aanhoor,Vir hoelank sal dit nou weer so gaan.Hy sal ook voor God moet rekenskap gee.Van die moorde wat gepleeg is,en die hartseer wat hy in ons Vaderland gebring het.
Nou was en is hy n Afgod.Hoekom word ons Afrikaners nie nou uit die tronke los gelaat nie.Soos hy los gelaat was nie.
Die manne wat in die vorige regering,hulle pligte uit gevoer het,sit in die tronk,en die wat die woord gespreek het,bly in Mansions, en lewe lekker met vet selarisse.Kom Mandella se lyers,laat ons mense ook nou vry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.