Mandela-familie glo woedend oor video

Lede van Nelson Mandela se familie is glo woedend oor die ANC se onlangse besoek aan Madiba, waarvan ʼn video gemaak en uitgesaai is.

Die Sunday Times het Sondag berig die familie wil ‘n dringende vergadering met die ANC hou om die omstrede besoek deur president Jacob Zuma en ander senior partyleiers te bespreek.

Mandela se kleinseun, Mandla, het gesê familielede wat die onderhoud toegestaan het, moet aanspreeklik gehou word. Madiba se oudste dogter, Makaziwe, sê die beeldmateriaal was “onwaardig en in swak smaak”.

Intussen het die ANC beweringe dat die beeldmateriaal van die besoek gebruik is om die party te begunstig, ontken.

Jackson Mthembu, die party se woordvoerder, het aan die koerant gesê die aantygings is “snert”. Die party sê voorts die uitsaai van die video was die regte ding om te doen, omdat die wêreld nodig gehad het om hom te sien. “Ons praat nie hier van enige oupa nie, ons praat van ʼn wêreld-ikoon,” het Mthembu gesê.

Maroela Media het op 30 April berig die video van die besoek word erg gekritiseer. Die video wys ‘n broos en uitdrukkinglose Madiba, terwyl hooggeplaastes in die ANC laggend om hom gesels. Klik hier vir meer inligting en om die video te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

William ·

Ek stem saam met oom Nelson se mense .Zuma en sy mense het geen respek vir hom nie .Kan hul hom nie in vrede sy lewe laat leef nie.So n video was onnodig en onwaardig vir so n groot man wat nie een van hulle ooit kan wees nie.Laat die ou man sy dae geniet saam met sy familie en vriende.Ek dink dit is al wat hy nou nog begeer.Hy het gedoen wat hy kon vir die land en sy mense.

Joey Fourie ·

Hoekom is hulle eers ‘n week later daaroor kwaad? Hulle moes onmiddellik beswaar aangeteken het, of nog beter, dit in die eerste plek nie eers toegelaat het nie.

Johanna ·

Ek dink die familie is eerder kwaad dat hulle nie ook op die video verskyn nie. Daarom dat hulle noueers hulle ontevredenheid bekend maak nadat dit op media gesien is. Natuurlik het die besoek verskuilde agendas o.a. tot voordeel van anc vir komende verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.