Mandela-foto word versprei

Oud-president Nelson Mandela se kis word deur draers na die Uniegebou gebring Foto: Madelene Cronje/SAPA

Oud-president Nelson Mandela se kis word deur draers na die Uniegebou gebring Foto: Madelene Cronje/SAPA

ʼn Foto, wat glo van voormalige president Nelson Mandela geneem is terwyl hy by die Uniegebou in Pretoria in staatsie lê, is op Twitter gepubliseer.

Die Twitter-gebruiker @nQOW_bee het die foto Woensdagaand net voor middernag opgelaai. Dit lyk soos ʼn foto van die oudstaatsman met sy oë toe. Of die foto wel by die Uniegebou geneem is, is nie duidelik nie. Dit wil ook voorkom of dit ʼn skermskoot van ʼn rekenaar is, aangesien die muispyltjie ook op die foto voorkom. Die woorde “Hy rus nou” is by die foto geskryf.

Die gebruiker het intussen haar profiel en die foto verwyder.

Talle Twitter-gebruikers voer aan die foto is ʼn vervalsing of is met ʼn fotomanipulasieprogram gedoen. Ander het die fotograaf veroordeel. “Jy het geen respek nie! Hoe kon jy so iets doen? Jy behoort jouself te skaam,” het Thobeka Matosa getwiet.

Die gebruiker het aangevoer “ʼn Indiër-man” het die foto geneem.

Phumla Williams, woordvoerder vir die regering, het Donderdag gesê die regering is bewus van die “sosialemedia-aktiwiteit” oor die bestaan van die foto. “Die regering verwelkom die manier waarop mense sosiale platforms gebruik om hul teleurstelling en verontwaardiging oor soortgelyke foto’s uit te spreek,” het Williams gesê. “Indien die foto wel bestaan, doen die regering ʼn beroep op mense om nie daarna te kyk nie en dit van hul sosialemedia-tydlyne te verwyder.”

Sy het gesê daar is geen planne om amptelike foto’s van Mandela, waar hy in staatsie lê, vry te stel nie. “Die regering respekteer die Mandela-familie se versoek dat geen foto’s van Mandela se oorskot vrygestel moet word nie.”

“Met verwysing na die roubeklaers by die kis, benadruk die regering dit dat geen fotografie toegelaat word nie, aangesien dit die militêre protokol vir verrigtinge by die Uniegebou sal verbreek.”

Lt.gen. Themba Mathanzima, woordvoerder vir die Mandela-gesin, het aan die Star-koerant gesê die familie is baie besorg oor die foto. “Ons weet nie wie dit gedoen het nie, maar ons gaan die regering vra om ondersoek in te stel,” het Mathanzima gesê. “Die foto is definitief nie met ons toestemming geneem nie. Die familie is ontstoke.”

Mandela is op 5 Desember 2013 by sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede. Hy was 95 jaar oud. ʼn Amptelike gedenkdiens is Dinsdag by die ENB-stadion in Johannesburg gehou en hy sal Sondag in Qunu in die Oos-Kaap begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.