Mandela glo “vasbeslote” om ontslaan te word

Nelson Mandela

Voormalige president Nelson Mandela se dogter, Zindzi Mandela, het gesê haar pa is vasbeslote om ontslaan te word uit die hospitaal en terug te keer huis toe, het EWN Vrydag berig.

“Ek wil graag die publiek verseker dat hul liefde en gebede hom bereik en ek glo dit is wat hom dra. Hy is vasbeslote om uit die hospitaal ontslaan te word en huis toe te gaan,” het Zindzi aan EWN gesê.

Die presidensie het Donderdag bevestig Mandela se gesondheid is besig om te verbeter.

Mandela is op 8 Junie in die Mediclinic-harthospitaal in Pretoria opgeneem vir ‘n herhalende longkwaal.

“Madiba bly in die hospitaal, maar dokters het bevestig dat sy gesondheid stadigaan verbeter,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê.

Zindzi het Donderdag in ‘n eksklusiewe onderhoud met Brittanje se Sky News gesê haar pa maak “merkwaardige vordering”. “Hy kommunikeer met sy oë en sy hand. Hy was besig om televisie te kyk toe ek hom besoek het.” Sy sê haar pa het geglimlag en sy hand opgelig toe hy haar gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.