Mandela: Grafte sal glo “diamantveld” wees

Foto: bbc.co.uk

‘n Lid van die Mandela-familie het Maandag aan die Dispatch-koerant gesê Mandla Mandela sal uit die familie “uitgesluit” word sodra oud-president Nelson Mandela tot sterwe kom.

“Hy het in 2011 die oorskot van Madiba se kinders van Qunu na Mvezo gesteel omdat hy geweet het dat Mandela saam met sy kinders begrawe wil word en dat dit sy diamantveld sal wees,” het die familielid aan die koerant gesê.

Mandla Mandela, die amptelike hoof van die Madiba-stam en ‘n ANC-LP, het die oorskot van drie familielede in Qunu laat opgrawe en hulle twee jaar gelede weer in Mvezo begrawe. Mandla het Sondag in ‘n verklaring gesê hy is “ongelukkig verplig” om hom tot die hof te wend. “Die manier hoe ons hierdie saak hanteer is teenstrydig met ons gebruike en ‘n diep teleurstelling vir my oupa en sy voorvaders,” het Mandla gesê.

Die hofgeding sou Maandag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Mthata hervat het.

‘n Dringende interdik is Vrydag aan 16 lede van die Mandela-familie, gelei deur Mandela se oudste dogter Makaziwe (60), toegestaan wat Mandla verplig het om die oorskot na Qunu terug te bring. Die drie familielede wie se oorskot geskuif is, is Mandela se oudste seun en Mandla se pa Makgato Mandela wat in 2005 oorlede is; Mandela se eerste dogter Makaziwe wat as ‘n baba in 1948 gesterf het; en Mandela se tweede seun Madiba Thembekile wat in 1969 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Mandela, wat steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n Pretoriase hospitaal is, het vroeër aangedui dat hy saam met sy familie in Qunu begrawe wil word.

Mandla voer egter aan dat Mvezo, waar hy ‘n multi-miljoenrandse hotel oprig, die geboorteplek van die Mandelas is en dat dit van geskiedkundige belang is.

Die saak is teen Maandagmiddag nog nie aangehoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.