Mandela het laparoskopie ondergaan

Nelson Mandela. Foto: GCIS

Daar is “niks fout” met oud-president Nelson Mandela nie en hy is in die hospitaal opgeneem om ʼn laparoskopie te ondergaan, het die minister van verdediging, Lindiwe Sisulu, Sondag gesê.

“Daar was nooit iets fout met hom nie. Die rede hoekom ons hom hospitaal toe gevat het, was omdat hy ongemak ervaar het,” het Sisulu tydens ʼn mediakonferensie by die parlement gesê. “En wanneer jy op ‘n gereelde basis na iemand omsien, wil jy hê die toestand van daardie spesifieke persoon moet verbeter. Die enigste manier hoe ons uiteindelik by die kern hiervan kon uitkom, was deur hom hospitaal toe te neem sodat toetse gedoen kan word om vas te stel of die medikasie wat vir hom voorgeskryf is en wat hy tans gebruik, voldoende is, en of daar dalk iets anders is wat beter sal wees. Dit is hoekom ons dit gedoen het, en dit is wat ons op ʼn gereelde basis sal doen en wanneer ons hom behandel.”

Sisulu sê sy het na foto’s van Mandela in Sondagkoerante gekyk en gewens hulle het meer onlangse foto’s van hom gebruik. “Hy lyk baie aantreklik, baie gesond, en dit gaan goed met hom.”

Oor ʼn vraag aan Sisulu oor wanneer Mandela uit die hospitaal ontslaan gaan word, het sy die media gevra om sy privaatheid te respekteer en gesê dat hulle nie besonderhede hieroor bekend sal maak nie. “Ons kan nie dat ʼn man wat ʼn groot deel van sy lewe as ʼn gevangene spandeer het, ook nou ʼn gevangene van die samelewing word nie. Dis nie reg nie.”

Die presidensie wou ook nie bekendmaak in watter hospitaal Mandela behandel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.