Die watervoorsiening na ʼn aantal voorstede in Pretoria, insluitend die gebied rondom die Medi-Clinic Harthospitaal waar Mandela behandel word, is vroeg Vrydagoggend herstel.
“Die watervoorsiening is omstreeks 02:00 herstel nadat die water vir roetineinstandhoudingsondersoeke afgesny is,” het Blessing Manale, woordvoerder vir die munisipaliteit, gesê.
Voorstede wat hierdeur geraak is sluit Muckleneuk, gedeeltes van Colbyn, Hatfield en Bryntirion in.
Manale sê die waterdienstedepartement het reg deur die aand gewerk om te verseker dat die watervoorsiening herstel word. “Ons vra weereens om verskoning vir enige ongerief wat dit kon veroorsaak.”
Lee-Ann Bell, woordvoerder vir Medi-Clinic, het bevestig dat die watervoorsiening na die harthospitaal, waar voormalige pres. Nelson Mandela vir ʼn longkwaal behandel word, onderbreek is. Sy kon nie dadelik verdere kommentaar lewer nie.