Nelson Mandela se twee jongste dogters was by die koninklike première van die rolprent Mandela: Long walk to freedom in Londen toe hul pa gesterf het, het die Nelson Mandela-stigting Vrydag gesê.
Die rolprent, wat verlede week in Suid-Afrika vrygestel is, is gebaseer op die voormalige president se lewe. “Hulle het die nuus van hul pas se afsterwe tydens die rolprent ontvang en dadelik die teater verlaat,” het die organisasie gesê.
Die hertog en hertogin van Cambridge, prins William en sy vrou Kate, was ook by die première.
Prins William het gesê Madiba se afsterwe is “uiters hartseer en tragies”.
ʼn Twee minuut lange stilte is ná die rolprent gehou ter herinnering aan Mandela.
“Ons word net weer herinner aan watter buitengewone en inspirerende man Nelson Mandela was, en my gedagtes en gebede is by hom en sy gesin,” het prins William bygevoeg. Dit is glo die eerste keer wat een van die hoof koninklikes uit die vuis ʼn reaksie gee oor ʼn groot nuusgebeurtenis.
President Zuma het Donderdagaand net voor middernag bekend gemaak dat Mandela omstreeks 20:50 in die ouderdom van 95 by sy huis in Houghton, Johannesburg, heengegaan het.