Mandela-kis word by Waterkloof-LMB oorhandig

Mandela se liggaam word Vrydag vir oulaas van die Uniegebou na 1 Militêre Hospitaal vervoer. Foto: Christine Vermooten/SAPA

Mandela se liggaam word Vrydag vir oulaas van die Uniegebou na 1 Militêre Hospitaal vervoer. Foto: Christine Vermooten/SAPA

Oud-president Nelson Mandela se kis het Saterdagoggend by Waterkloof-lugmagbasis aangekom om na Qunu in die Oos-Kaap vervoer te word.

“Ons bedank die familie dat hulle vir ons die geleentheid bied om hom vir oulaas te groet,” het Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, gesê.

Die kis was vroeër met ʼn Suid-Afrikaanse vlag gedrapeer terwyl dit vir drie dae lank tussen 1 Militêre Hospitaal in Pretoria na die Uniegebou in Pretoria vervoer is. Mandela het vir drie dae lank by die Uniegebou in staatsie gelê. Die kis het Saterdag die ANC-kleure opgehad.

Mandela se weduwee, Graca Machel en sy eksvrou Winnie Madikizela-Mandela, het Saterdagoggend in die voorste ry aan weerskante van pres. Jacob Zuma gesit.

Die Amerikaanse burgerregte-aktivis Jesse Jackson, televisiepersoonlikheid Dali Tambo, voormalige president Thabo Mbeki, adjunk-president van die ANC Cyril Ramaphosa, ANC-voorsitter Baleka Mbete, minister van finansies Pravin Gordhan, ANC-strydros Frene Ginwala, en voormalige hoof van Ekurhuleni-metropolisie Robert McBride was ook by die lugmagbasis om die oorhandiging te aanskou.

ANC-beamptes en lede, talle wat in die party se kleure aangetrek is, het in die loods gesing en gedans voor die oorhandigingseremonie. Volgens die program sal Zuma die skare toespreek en die Mandela-familie sal ʼn bedanking doen.

Verteenwoordigers van die vakbondfederasie Cosatu, die SA Kommuniste Party (SAKP) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Vereniging sal ook ʼn spreekbeurt hê.

Mandela se gunstelinggedig, “Invictus” is op die rugkant van die program gedruk.

Mandela is op 5 Desember in die ouderdom van 95 by sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.