Mandela-kleinkinders op Twitter oor sy gesondheid

Mandela in 2008 Foto: SAPA

Twee van Nelson Mandela se kleindogters, wat aan ʼn gesinsrealiteitsprogram op televisie deelneem, het hulle vir nege ure lank na Twitter gewend om vrae oor hul siek oupa te beantwoord.

Being Mandela, ʼn program met Zaziwe Dlamini-Manaway en Swati Dlamini, het Dinsdag aangekondig dat die twee kleindogters op Twitter (@beingmandela) “vrae sal beantwoord en op kommentaar sal reageer”. Die twee meisies is Zenani Mandela se dogters. Zenani is oud-president Nelson Mandela en sy eksvrou Winnie Madikizela-Mandela se kind.

Twiets oor Mandela se gesondheid het hierna die sessie domineer. Carlo Petersen wou meer weet oor die “vegetatiewe toestand” waaroor vroeër berig is. “Ek het geen outoriteit om op sy persoonlike gesondheid kommentaar te lewer nie,” het die antwoord gekom.

Joernalis Deborah Patta wou weet of Mandela nog kommunikeer. “Hy glimlag”, was die antwoord.

Natasha Tay het gevra of Madiba op enige ander manier kommunikeer. “Met sy oë en oogbeweging,” het @beingmandela geantwoord.

Antwoorde op vrae oor Mandela se gesondheid het ontwykend gebly, met gereelde verwysings na die twee se onkunde oor mediese toestande.

Karen Osborn het gesê: “Ek glo ʼn persoon kan net só lank aan lewensondersteuningsmasjiene gekoppel wees. Hoe is dit moontlik?” “Dit is ʼn vraag vir die dokters, ons het nie in ʼn mediese rigting studeer nie, jammer” was die reaksie.

“Ons maak staat op die mediese span om ons van raad te bedien en hulle doen ʼn wonderlike werk en die belangrikste van alles is dat ons dit in God se hande geplaas het,” het @beingmandela gesê.

Die joernalis Kristen van Schie wou weet of enige strategie bespreek is om die familie se handelsmerk te beskerm, in die lig van die onlangse hofverrigtinge oor die grafte van drie van Mandela se kinders. “Kyk, ons is nie trots op dit wat gebeur het nie. Die dinge moes gebeur en op die ou einde is ons nog steeds familie.”

Toe Matthew Savides gevra het hoe die familie hul eenheid sal herstel, het die antwoord gekom: “Ons laat die ouer lede van die familie toe om ons te lei, maar die eenheid is nooit gebreek nie, dit was net een familielid wat anders besluit het. Ons sal altyd lief wees vir ons neef [Mandla].”

Robert Nisbet, korrespondent van Sky News, wou weet of hulle saamstem dat die media soos “aasvoëls” optree om nuus oor hul oupa se gesondheid te dek. Makaziwe Mandela, Madiba se dogter, het verlede week gesê die joernaliste buite die hospitaal, waar hy behandel word, tree soos aasvoëls op. “Sommige mediahuise is verskriklik, maar ons weet dat hulle net hul werk doen. Ons weet egter dat ons Madiba se regte as ʼn pasiënt moet beskerm,” het hulle geantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.