Mandela kritiek in hospitaal

Mandela in 2008 Foto: SAPA

Daar was Maandagoggend baie min beweging by die Pretoriase hospitaal waar voormalige president Nelson Mandela steeds in ʼn kritieke toestand is.

Die Medi-Clinic Harthospitaal se ingang in Celliersstraat is gesluit en die polisie beman die ander ingang in Parkstraat. Nuusspanne het Sondagaand by die hospitaal byeengekom nadat die presidensie aangekondig het dat Mandela se toestand agteruitgegaan het. Meeste nuusspanne het omstreeks 03:00 verdaag. Daar is egter steeds meer as 20 voertuie, insluitend die uitsaaivoertuie van plaaslike en internasionale media, wat in Cellierstraat geparkeer staan.

Verskeie polisiebeamptes is binne die hospitaal ontplooi.

“Die toestand van voormalige pres. Nelson Mandela, wat steeds in die hospitaal in Pretoria is, is nou kritiek,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, Sondagaand gesê. Dié verklaring is uitgereik nadat pres. Jacob Zuma en adjunk president Cyril Ramaphosa ʼn besoek aan Mandela afgelê het. “Die mediese span het hulle ingelig dat Mandela se toestand die afgelope 24 uur versleg het,” het Maharaj bygevoeg.

Zuma en Ramaphosa het ook met Mandela se vrou, Graca Machel, vergader om sy toestand te bespreek. “Die dokters doen alles in hul vermoë om sy toestand te laat verbeter en te verseker dat Madiba gemaklik is,” het Zuma in die verklaring gesê. “Hy is in goeie hande.”

Zuma doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om steeds vir Mandela en sy mediese span te bid.

Mandela (94) is op 8 Junie in die hospitaal opgeneem vir ʼn herhalende longkwaal.

Mense wat Mandela beterskap toewens het kaartjies, ballonne, blomme en skilderye al langs die hospitaal se sekuriteitsmuur gepak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.