Mandela-prokureurs het glo mislei

Mandela in 2008 Foto: SAPA

‘n Klagte sal teen die Mandela-familie se prokureurs gelê word nadat hulle glo die hof mislei het oor die toestand van voormalige president Nelson Mandela se gesondheid, het Mandla Mandela se prokureur Saterdag gesê.

“Ons moet nog die klag formaliseer, maar my kliënt het versoek dat ‘n klag by die Prokureursvereniging en by die Raad van Prokureurs ingedien word,” het Gary Jansen, Mandla se prokureur, gesê. “Ons het die opdrag ontvang, maar ons het nog nie die klag gelê nie.”

Die klag hou verband met ‘n hofdokument wat deur 15 lede van die Mandela-familie in ‘n aansoek, om oorskot van Mandela-familielede op te grawe, ingedien is. “Die punt is dat hulle ‘n dringende hofaansoek ingedien het en staat gemaak het op sekere beëdigde verklarings wat verband hou met die gesondheid van die president wat nie waar was nie,” het Jansen bygevoeg. “Ons voel dat die saak verder ondersoek moet word.”

Jansen sê die prokureurs van die Mandela-familie het die hofdokument gebruik om die hof te mislei.

‘n Formele klag gaan glo teen Maandagoggend ingedien word.

Die klag sal by die Raad van Prokureurs in die Oos-Kaap en die Kaapse Prokureursvereniging ingedien word teen die raadgewende prokureur en die advokaat wat die familie verteenwoordig. Die sertifikaat van dringendheid wat op 27 Junie uitgereik is en aan die Oos-Kaapse hooggeregshof oorhandig is, is wyd deur plaaslike en internasionale media gepubliseer. Sapa besit ook ‘n afskrif van die sertifikaat. ‘n Advokaat vir die familie het in die dokument verklaar dat die raadgewende prokureur hom aangeraai het dat Mandela se toestand vererger het en dat die familie deur die mediese praktisyns aangeraai is om die lewensondersteunende masjiene af te skakel. “Die Mandela-familie oorweeg hierdie opsie baie sterk om sodoende nie Mandela se lyding uit te rek nie.”

Die dokument word toegeskryf aan David Smith, wat die familie in die saak teen Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, verteenwoordig het. Smith het Mandela se gesondheid as “bedenklik” beskryf en gesê hy is in ‘n “permanente vegetatiewe toestand” en dat hy deur “lewensondersteunende masjiene in sy asemhaling bygestaan” word.

Smith was nie Saterdagmiddag dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Die presidensie het Donderdagaand ontken dat Mandela in ‘n vegetatiewe toestand verkeer.

Lees ook:
Nelson Mandela: Dokters verwerp idee om masjiene af te skakel
Grafskendingsaak gaan voort teen Mandla Mandela
Presidensie ontken dat Mandela in “vegetatiewe toestand” is
Mandela in “vegetatiewe toestand”
Oorskot van Mandela-kinders weer opgegrawe
Uitspraak gelewer in Mandela-graftesaak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

‘n Mens kan maar net eenvoudig nie aanhou voorgee om iets te wees wat jy nie is nie. Een of ander tyd kraak daai vernislagie en dan kom die ware kleure na vore. Die Mandela-familie se ware kleure het nou hard en duidelik na vore gekom. Goeie genugtig, wat ‘n fmailie en om te dink hulle was ons land se presidentiele-familie gewees en een van hulle is tans ons ambassadeur in Argentinie. Die vernislaag wat so dik aangesmeer was, val nou sommer in yslike stukke af en daar staan hulle nou, soos in die sprokie, die koning sonder klere voor sy onderdane. Ek wonder nou maar net wie lieg eintlik vir wie? In hoe ‘n vegetatariese toestand is die ouman regtig of reageer hy regtig nog?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.