Mandela-routyd: Só verloop gebeure

Nelson Mandela

Nelson Mandela

Collins Chabane, minister in die presidensie, het Saterdag aan die media verduidelik hoe die tien dae van rou na die afsterwe van oudpresident Nelson Mandela sal verloop.

Chabane sê Mandela se liggaam word tans deur die weermag se militêre gesondheidsdienste voorberei sodat dit van Woensdag tot Vrydag in staatsie kan lê by die Uniegebou in Pretoria. Hy sê werk word intussen gedoen by belangrike plekke soos die Uniegebou in Pretoria, ENB-stadion in Johannesburg, Mthatha, Qunu en grensposte ter voorbereiding van gebeure rondom Mandela se begrafnis. Chabane sê môre, 8 Desember, moet gebruik word as ʼn dag van aanbidding en weerspieëling om Mandela se lewe en sy nalatenskap te vier. Hy sê Mandela se amptelike huldigingsdiens sal Dinsdag by die ENB-stadion plaasvind en deur verskeie BBP’s, BBBP’s en lede van die publiek bygewoon word. Chabana sê verskeie paaie rondom die stadion sal vir verkeer gesluit wees. Dit sluit onder meer in by die N1 en Rand Showweg, by die N1 en die Soweto-hoofweg, by die N1 en die N17, Greenwoodweg en Booysens Reserve en Nasrec en Main Reefweg.

Chabane sê Mandela sal van Woensdag tot Vrydag in staatsie lê by die Uniegebou in Pretoria. “Suid-Afrikaners en gekose internasionale besoekers en gaste sal president Mandela se oorskot by die Uniegebou kan besigtig.” Hy sê diegene wat Mandela se oorskot wil besigtig sal met busse na die Uniegebou ry van twee sentrale plekke in Pretoria. Die plekke sal binnekort aangekondig word. Chabane sê Mandela se oorskot sal Saterdag vanaf die Waterkloof-lugmagbasis na die Oos-Kaap vervoer word waarna die regerende party sal afskeid neem van Madiba. Hy sê op die dag sal daar ʼn stoet van Mthatha na Qunu wees waar die Thembu-gemeenskap ʼn tradisionele seremonie sal hou. Chabana sê Mandela sal op Sondag 15 Desember in Qunu begrawe word.

Chabane sê meeste van die bogenoemde gebeurtenisse sal regstreeks op televisie uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.