Mandela se Afrikaanse brief uit die tronk

‘n Foto en teksweergawe van die brief verskyn onderaan die berig. In 1975 ontvang Tafelberg-Uitgewers ʼn Afrikaanse brief en die adres van die briefskrywer is Robbeneiland.

Die skrywer van die brief is die gevangene Nelson Mandela.

Die brief begin soos volg:

“Geagte Heer,

Graag wil ek u hartlik bedank vir die pragtige boekgeskenk wat ek vandag van u ontvang het.
D.J. Opperman se bloemlesings is van besondere waarde en ek waardeer hulle meer as wat ek in woorde kan stel. Die Groot Verseboek bevat ’n omvattende aantal uiteenlopende gedigte van ’n substansiële deursnee van ons volk.”

Eloïse Wessels, besturende direkteur van NB-Uitgewers, sê die brief is destyds aan Danie van Niekerk, uitvoerende hoof van Tafelberg-Uitgewers, gestuur. Tafelberg-Uitgewers het in 2002 deel geword van NB-Uitgewers. “Die oorspronklike brief is, sedert dit destyds ontvang is, in ’n kluis by Tafelberg en later by NB-Uitgewers gehou. Die brief het in 2008, toe dié kluis tydens kantoorverbouings by NB-Uitgewers geskuif en uitgepak is, onder my aandag gekom. Ons het toe dadelik ’n afskrif gemaak, dit geraam en in die voorportaal van NB-Uitgewers opgehang. Die oorspronklike brief word steeds in die kluis bewaar.”

Van Niekerk sê die posmandjie het telkens verrassings gebring. “Op 10 April 1975 kry ek ‘n handgeskrewe briefie uit die gevangenis op Robbeneiland, onderteken deur ‘Die uwe, NELSON MANDELA’. Dit lees: ‘Ek plaas hiermee ‘n bestelling vir die volgende twee boeke: (1) Ons eerste ses premiers deur Piet Meiring, (2) Tien politieke leiers. Vind asseblief ingesluit die bedrag van R8,60 [posgeld bygereken] ter kwytskelding.” Van Niekerk sê die boeke is gepos en die posorder is teruggestuur. “Kort daarna het ‘n nuwe uitgawe van Dirk Opperman se Groot Verseboek verskyn. Ek het dit met komplimente aan Mandela op Robbeneiland gepos en ‘n antwoord terug ontvang: “Graag wil ek u hartlik bedank vir die pragtige boekgeskenk. D.J. Opperman se bloemlesings is van besondere waarde en ek waardeer hulle meer as wat ek in woorde kan stel.”

Wessels sê die brief is vir hulle ʼn kosbare kleinood. “Dit is ’n direkte skakel met een van die grootste ikone van ons tyd, ’n vredemaker en ’n mensch, en iemand wat verstaan hoe taal en mense werk. In Madiba se eie woorde: ‘If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.’ Madiba se belangstelling in Afrikaanse poësie, wat duidelik uit die brief blyk, is ’n aanduiding van sy openheid vir mense wat ander tale praat. Sy insluitende aanslag is juis dit wat hom só ’n groot held vir almal in Suid-Afrika gemaak het.”

Teksweergawe van die brief:

Robben-Eiland
27 Februarie 1975

Geagte Heer,

Graag wil ek u hartlik bedank vir die pragtige boekgeskenk wat ek vandag van u ontvang het. D.J. Opperman se bloemlesings is van besondere waarde en ek waardeer hulle meer as wat ek in woorde kan stel. Die Groot Verseboek bevat ’n omvattende aantal uiteenlopende gedigte van ’n substansiële deursnee van ons volk. Die biografiese besonderhede in die Junior- en Senior Verseboek gee ’n verteenwoordigende deursnee van die figure wat ’n belangrike rol gespeel het in die bou van die Afrikaanse literatuur. Miskien sal ek eendag die geleentheid kry om my dankbaarheid aan u te betuig.

In verband hiermee, wil ek graag noem dat ek baie onlangs my begeerte om Opperman se poësie te hê teenoor ’n vooraanstaande en welbekende figuur in ons land se openbare sake, bekend gemaak het. Miskien dra u daarvan kennis. As dit die geval is, mag ek u vra om my dankbaarheid aan hom oor te dra?

Die uwe,

N.R. Mandela

Die Bestuurder
Tafelberg-Uitgewers
Posbus 879
Waalstraat 28
Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deon ·

Ek is jammer maar die taalgebruik in die brief klop nie met sy mondelingse taalgebruik nie. Iemand het gehelp.

Petro ·

Natuurlik sou hy die Afrikaanse tronk bewaarders gevra het om hom te help om die brief te skryf. Dis mos wat enige intelligente mens sou doen! Net uiters arrogante of dom mense gebruik nie ‘spell check’ op hul rekenaars wanneer hulle ‘n belangrike brief of dokument aan iemand stuur nie.

Adriaan ·

Die feit dat hy die moeite doen om sy dankbaarheid op ‘n professionele manier uit te spreek is ‘n aanduiding van die selfrespek en die waardigheid van die man.
Ook die feit dat hy die moeite gedoen het om die Afrikaner te leer verstaan deur sy literatuur te bestudeer is ‘n pluimpie vir hom.
Jammer sy opvolgers het nie van dieselfde kenmerke nie…

Adriaan ·

Die feit dat hy die moeite gedoen het om sy dankbaarheid professioneel uit te spreek, hetsy met of sonder hulp, is ‘n aanduiding van die selfrespek en die waardigheid van die man.
Jammer sy opvolgers openbaar nie van dieselfde eienskappe nie…

chris ·

ja-nee, n puik voorbeeld van die man se karakter. of iemand hom gehelp het al dan nie is van minder belang as die feit dat hy die begeerte gehad het om hom sodanig uit te druk. dit is hierdie begeerte om uit te reik wat hom onderskei van meeste mense en wat n besondere diens aan hierdie land bewys het tydens n buitengewoon plofbare tydperk. uit alle groeperinge van ons samelewing is daar helaas n groot aantal mense wat hieruit n les kan neem. hy was natuurlik nie volmaak nie… wie is? maar n heer? dit was hy. iemand wat van n geweldenaar na n vredemake bekeer het? dit was hy! n toonbeeld van die mag van vergifnis? dit ook! rus in vrede oubaas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.