Mandela se dogters laat vaar hofsaak

Oudpres. Nelson Mandela

Oudpres. Nelson Mandela

Oudpres. Nelson Mandela se dogters het ʼn hoëprofiel-hofgeding laat vaar om beheer te kry oor twee maatskappye wat opgestel is om die opbrengs van sy ikoniese naam en nalatenskap te bestuur.

“Makaziwe Mandela en Zenani Mandela-Dlamini se aansoek om vier direkteure, wat deur hul sieklike pa aangestel is om na sy geldsake om te sien, is onvoorwaardelik teruggetrek en alle regonkoste is betaal,” het die prokureursfirma Norton Rose Fulbright in ʼn verklaring gesê. Norton Rose Fulbright is die prokureurs wat namens die direkteure en trustees van die firmas opgetree het.

“Hierdie ondeurdagte en verkeerde aansoek het die reputasie van die respondente, direkteure en trustees en die vertroue en die beeld van die stigter, Nelson Mandela, skade berokken,” het die prokureursfirma gesê.

Makaziwe en Zenani het beplan om ‘n hofbevel, wat in April 2004 in die Johannesburgse hooggeregshof uitgereik is, te betwis. Kragtens dié hofbevel mag Mandela se voormalige prokureur, Ismail Ayob, nie meer sy geld-, persoonlike en regskwessies hanteer het nie. Die hofbevel het Ayob ook verhoed om enige van Mandela se kunswerke te verkoop.
Bally Chuene, Mandela se huidige prokureur, het onlangs ‘n beëdigde verklaring ingedien in reaksie op ‘n eis van die susters, wat deur Ayob verteenwoordig word. Chuene beweer Ayob is verantwoordelik vir die dogters se dade. Ayob het homself van die trust verwyder nadat hy vervalste kunswerke van Mandela verkoop het en miljoene rande in sy sak gesteek het. Hy het in 2007 $100 000 (sowat R1 miljoen) terugbetaal ná ʼn hofskikking.

Mandela se dogters het die hof vroeër vanjaar versoek om ‘n bevel uit te reik om Chuene en sy mede-direkteure te beveel om hul direkteurskappe in Harmonieux Investment Holdings en Magnifique Investment Holdings te beëindig. Die mede-direkteure is minister Tokyo Sexwale en George Bizos.

Chuene het in sy beëdigde verklaring gesê hy, Bizos en Sexwale het in 2011 geweier om die trust se geld aan die dogters te oorhandig sonder wettige regverdiging.

– Sapa

Lees ook:
Dogters dagvaar Madiba
Madiba soek glo nie sy dogters in sy geldsake nie
Storm oor Mandela-handelsmerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.