Oud-pres. Nelson Mandela se oudste dogter, Makaziwe Mandela, is onkundig oor haar familie se geskiedenis, het die AbaThembu koninklike huis aan The New Age gesê.
“Dit sal onvanpas wees indien die koninklike familie nie vir haar sê dat sy haarself moet afvra wie Mandela was nie,” het hoofman Daludumo Mtirara, woordvoerder vir die familie, gesê. “Sy is, weens geskiedkundige redes, nie op hoogte van haar familie, kultuur, gebruike en tradisies nie. Sy moet weet dat Mandela die jongste broer was van koning Mtirara, Nkosi Mnqanqeni, Nkosi Joyi en Nkosi Shweni.”
Mtirara het reageer op uitlatings wat Makaziwe verlede week tydens ʼn onderhoud met die SAUK gemaak het. “Ons word aangesê daar is ʼn woordvoerder genaamd Daludumo Mtirara. Wie het hom aangestel? Wie is Daludumo Mtirara in die Mandela-familie?” het Makaziwe glo in die onderhoud gesê.
Winnie Madikizela-Mandela, Madiba se eksvrou, het verlede maand ʼn verklaring uitgereik waarin sy sê dat Makaziwe en haar susters, Zindiswa en Zenani, Mandela se familiesake moet oorneem. Die verklaring het min te sê gehad oor Mandela se kleinseun, Mandla Mandela. Mtirara het egter daarna bevestig Mandla is die enigste persoon wat as die opvolger vir die koninklike huis beskou word.
Mandela is in Desember in die ouderdom van 95 oorlede. -SAPA
Lees ook:
Moenie Graca ondermyn nie, vra AbaThembu
Makaziwe nou hoof van Mandela-familie