Mandela “steeds kritiek”

Plakkate, foto’s, boodskappe, skilderye, beterskapkaartjies en blomme buite die Medi-Clinic harthospitaal waar Madiba behandel word Foto: Werner Beukes/SAPA

President Jacob Zuma het Maandagoggend gesê voormalige president Nelson Mandela se toestand is steeds kritiek.

“Mandela is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal en dokters doen alles in hul vermoë om sy welstand te verseker,” het Zuma Maandag in Parktown, Johannesburg, by ʼn nuuskonferensie aan die nasionale redakteursforum (Sanef) gesê.

Zuma en adjunk president Cyril Ramaphosa het Sondagaand besoek afgelê aan die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria, waar Mandela behandel word. “Dokters het gesê Madiba se toestand het oor die afgelope 24 uur versleg en dat hy nou kritiek is,” het Zuma gesê. “Hulle doen alles in hul vermoë om seker te maak hy is gemaklik.”

Zuma sê hy is laat die aand na die hospitaal en Mandela het “reeds geslaap”. “Ons het met die dokters en Mandela se vrou, Graça Machel, vergader, en ons is toe daar weg.”

Zuma sê Mandela se toestand sal nie pres. Barack Obama van Amerika se beplande besoek aan Suid-Afrika beïnvloed nie.

Mandela (94) is op 8 Junie in die hospitaal opgeneem vir ʼn herhalende longkwaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erika ·

Ek bid vir sy familie. GOD gaan ‘n mooi blommetjie kom pluk. Madiba is ‘n mens- mens, wit en swart het hom lief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.