Mandela word glo ‘dopgehou’

Oud-president Nelson Mandela. Foto: GCIS

Internasionale nuusagentskappe maak glo jare lank reeds van versteekte kameras gebruik om op oud-president Nelson Mandela se huis in die Oos-Kaap te ‘spioeneer’.

TimesLive berig dat ʼn spesiale polisietaakspan die afgelope week Mandela se huis in Qunu besoek het om ondersoek in te stel na ʼn beweerde veiligheidsbreuk. Volgens die berig is daar drie kringtelevisie-kameras by Mandela se buurvrou, Nokwanele Balizulu, se huis aangebring. Balizulu het aan die koerant bevestig dat sy ingestem het dat Associated Press en Reuters die kameras by haar huis aanbring. Dit is glo al so lank as ses jaar in gebruik. Balizulu wou egter nie verder kommentaar lewer nie. Die kameras sal glo Donderdagoggend deur die polisie verwyder word. Die polisie ondersoek glo ook die teenwoordigheid van ander versteekte kameras in Mandela se tuisdorp. Die SABC het glo ʼn kamera op ʼn nabygeleë heuwel aangebring. Die uitsaaier se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê egter hy is nie bewus hiervan nie. Associated Press het in reaksie hierop gesê dat die kameras nie aangeskakel is nie en slegs gebruik sal word wanneer daar ʼn reuse nuusstorie is waarby Mandela betrokke is. Reuters kon nie vir kommentaar bereik word nie. Mandela se kleinseun is sowat twee jaar gelede daarvan beskuldig dat hy die uitsaairegte na sy oupa se begrafnis aan die SABC verkoop het vir R3 miljoen. Hy en die SABC het die berigte ten sterkste ontken.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.