Mandla ontken Mandela-familietwis

Mandla Mandela. Foto: ForaTV

Mandla Mandela, ʼn kleinseun van oud-president Nelson Mandela, het ontken dat daar enige spanning tussen hom en sy tannie, Makaziwe Mandela, is.

The Star het Woensdag berig Mandla het Dinsdag glo uit ʼn familievergadering in Qunu, in die Oos-Kaap, gestorm ná ʼn meningsverskil onder andere oor waar Madiba begrawe moet word indien hy tot sterwe sou kom.

Volgens die berig het Mandla in 2011 glo die grafte van drie van Mandela se kinders sonder die familie se toestemming van Qunu na Mveso verskuif. Mveso is Mandela se geboorteplek.

Die familie het glo Dinsdag tydens die vergadering bespreek dat Mandela se seuns, Makgatho en Thembekile, en sy dogter Makaziwe, se oorskot weer opgegrawe moet word en weer in Qunu begrawe moet word. Hulle het ook bespreek of Mandela saam met sy kinders daar begrawe moet word. Mandela het glo vroeër aangedui dat dit sy wens is. Mandla het glo aangedring dat Mandela in Mveso begrawe moet word. Die familie het egter later Woensdagmiddag ontken dat Mandela se begrafnis bespreek is.

“Hoofman Zwelivelile (Mandla) het geen probleem met enige familielid wat verband hou met die verskuiwing van enige van die grafte nie,” het Freddy Pilusa, Mandla se woordvoerder, daarna aan The Star gesê.

“Mvezo is die geboorteplek en tradisionele huis van die Mandela-familie, en daarby lê sy historiese erfenis en betekenis.” Pilusa het gesê Mandla gaan nie kommentaar lewer oor sy oupa se beplande begrafnis nie.

Intussen berig City Press die hoof van Qunu, Nkosikazi Nokwanele Balizulu, het bevestig dat sy toestemming gegee het dat Mandela se drie kinders weer in Qunu herbegrawe mag word.

In ʼn eksklusiewe onderhoud met City Press met Balizulu, het sy gesê Makaziwe het haar Dinsdag genader en toestemming gevra dat die drie kinders in Qunu herbegrawe mag word.

Sy het gesê sy was nie deel van Dinsdag se vergadering nie, maar sy weet dat hulle die verskuiwing van die liggame bespreek het. Volgens Balizulu is die stamhoofde ook van Mandela se verswakte toestand ingelig.

Balizulu het gesê sy weet nie wat die beslissing van die vergadering was nie, maar sy het wel haar toestemming gegee dat die liggame daar herbegrawe mag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.