Mangaung: “Vat my terug, ek sal my gedra,” sê Malema

Julius Malema Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, het ‘n brief aan die party se nasionale verkiesingskonferensie in Mangaung gestuur en gevra of hulle hom weer sal aanstel.

Floyd Shivambu, geskorste woordvoerder van die ANC-jeugliga, het Maandag gesê hy, Malema en Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, het die brief Sondag ingedien om die party te versoek om die uitspraak wat tot hul opskortings en skorsings van die ANC gelei het, terug te trek.

Die drie het in ‘n gesamentlike verklaring gesê hulle is bereid om “toepaslik” op te tree. “Ons bly lojale ondersteuners en lede van die ANC en is bereid om gekorrigeer te word en onder sy beginsels gelei te word,” lui die verklaring. Die drie sê hulle het nie die hof genader nie, aangesien hulle glo die nasionale konferensie moet die dissiplinêre proses wat tot hul skorsing gelei het, hersien.

Hulle doen ‘n beroep op die ANC om die skorsings terug te trek en om hulle weer in hul voormalige posisies in die jeugliga te herstel. Hulle versoek dat Malema weer in sy posisie in die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in Limpopo herstel moet word.

Die drie bly vaag oor wat die “ander opsies” is wat hulle sou ondersoek om ‘n “regverdige verhoor te bekom en geregtigheid te laat geskied” indien hul versoek onsuksesvol is. “As lojale lede word daar van ons verwag om alle interne ANC-prosesse te ondersoek voordat ons ‘n ander platform nader.”

Malema is vroeër die jaar uit die ANC geskors omdat hy ongunstig die leierskapstyl van president Jacob Zuma met voormalige president Thabo Mbeki vergelyk het, en vir sy opmerkings oor ‘n regimeverandering in Botswana.

Shivambu is vir drie jaar uit die ANC geskors nadat hy ‘n joernalis gevloek het en ‘n verklaring uitgereik het om ‘n regeringsverandering in Botswana mee te bring.

Magaqa, wie se skorsing ná ‘n appèlverhoor van drie jaar na een jaar verminder is, het neerhalende aanmerkings oor Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, en die ANC se standpunt oor nasionalisering gemaak.

Lees ook:
Mangaung: Cyril Ramaphosa aanvaar nominasie
Mangaung: Fransman wil DA onttroon
Mangaung: Sakeman wil sy geld terughê
Mangaung: ANC betaal R14 miljoen
Mangaung: Trevor Manuel wil nie dien nie
Afgevaardigdes wil nie met media praat nie
Mangaung begin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.