Mangaung-verregse glo ontoerekeningsvatbaar

Martin Keevy op 8 Januarie 2013 in die hof Foto: Sabrina Dean/SAPA

Een van die vier verregses, wat daarvan beskuldig word dat hulle beplan het om ANC-lede te vermoor, is glo nie geskik om strafregtelik vervolg te word nie.

Martin Keevy (49) van Bloemfontein het op aanklagte van hoogverraad en sameswering om terreurdade te pleeg in die Bloemfonteinse hooggeregshof verskyn. Marius Bruwer, vir Keevy, het gesê ‘n eenparige sielkundige verslag van die Vrystaatse Psigiatriese Inrigting het bevind dat hy ‘n gebrek aan kriminele verantwoordbaarheid het en gevolglik nie strafregtelik vervolg kan word nie.

Staatsaanklaer Torie Pretorius het aan landdros Andries Schoeman gesê die staat bevraagteken die inhoud van die verslag en het ‘n verdere 30-dae uitstel vir ‘n herevaluasie versoek. “Die staat stem nie ooreen met die bevindings van die verslag nie,” het Pretorius gesê.

Bruwer het die aansoek nie teengestaan nie.

Keevy is Vrydag weer in die inrigting opgeneem waar die staat se kenners hom sal herevalueer. Hy sal op 16 Augustus weer in die hof verskyn.

Die staat voer aan dat Keevy, Mark Trollip, Johan Prinsloo en Hein Boonzaaier deel was van ‘n groep wat beplan het om ANC-leiers by die party se verkiesingskonferensie in Desember 2012 in Mangaung te vermoor. Hulle het dit glo “Die Slag van Mangaung” genoem.

Keevy, Trollip en Prinsloo se borgaansoek is afgekeur, terwyl Boonzaaier op R80 000 borg vrygelaat is. Trollip, Prinsloo en Boonzaaier sal na verwagting op 23 Augustus weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.