Mangaung: Verregses verskyn in die hof

ʼn Groep verregse ekstremiste was van plan om die president, adjunkpresident, kabinetsministers en senior ANC-lede dood te maak, het die landdroshof in Bloemfontein Dinsdag gehoor.

Vier verregse leiers het in die hof verskyn op aanklag van hoogverraad en terrorisme. Shaun Abrahams, staatsaanklaer, voer aan die vier mans, Mark Trollip, Johan Prinsloo, Martin Keevy en Hein Boonzaaier, was deel van ʼn groep wat “Die slag van Mangaung” beplan het om die land se leiers te vermoor.

Volgens die staat het die groep beplan om die regering omver te werp deur mortierbomme, vuurwapens en ammunisie te bekom om die president, kabinetsministers en ANC-lede tydens die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung op 16 Desember 2012 te vermoor. Agt swaargewapende wagte met R5-gewere en verskeie openbareorde-polisielede in koeëlvaste baadjies was in die hof toe die mans verskyn het.

Landdros Monde Matshaya het die saak na ʼn stiller hof geskuif nadat joernaliste, familielede en die publiek hof 19 by die landdroshof in Bloemfontein volgepak het. Die staat voer aan die groep, saam met ander, het sedert Januarie 2012 beplan om ʼn nuwe verregse party, die Boere-party, te stig en sabotasie te pleeg.

Abrahams sê die groep het hul dade naby Bloemfontein beplan, alhoewel die sameswering ook tydens vergaderings in Centurion en Springs in Gauteng en Prieska in die Noord-Kaap plaasgevind het. Die staat sê mans se plan was om die eenheid en territoriale sekuriteit van Suid-Afrika te bedreig. Hulle sou ʼn gevoel van terreur, vrees, en paniek onder die land se burgers gesaai het.

Die klagstaat dui aan die doel van die operasie was om die groep se eie politieke en ideologiese sienings te bevorder om uiteindelik selfregering tot stand te bring.

Trollip is Saterdag op die pad tussen Kimberley en Douglas in die Noord-Kaap in hegtenis geneem. Keevy is op dieselfde dag by ʼn gastehuis in Bloemfontein in hegtenis geneem, Prinsloo in Springs en Boonzaaier in Centurion.

Trollip was die selferkende leier van die “Wit Brandwag”-organisasie. Keevy is glo ʼn welbekende verregse en Prinsloo was ʼn lid van die “Boere Beskermingsforum” (BBF) en voorsitter van die “Volksorganisasies Leiersberaad” (VOLBER). Boonzaaier is glo ook ʼn welbekende verregse en is glo deur Prinsloo na die Verenigde State gestuur om daar met verregse groepe te skakel.

Die hof het aangehoor dat die groep ʼn vergadering op 24 Januarie 2012 gehou het om die “Boere-party” te stig om selfregering te bevorder. Abrahams voer egter aan die party is slegs ʼn front om terreurdade te pleeg.

Die staat voer verder aan dat die ANC se 2012 Mangaung-verkiesingskonferensie in alle erns tydens ʼn vergadering in Maartmaand in Springs bespreek is. Die staat sê hulle is in die proses om inligting van telefoonoproepe en e-posse tussen groepslede en ander verregse organisasies en individue te ontvang. Abrahams sê die groep het sedert Augustus 2012 in alle erns op die ANC se Mangaung-vergadering begin fokus en inligting is ondervang wat aandui dat Trollip, Keevy en Prinsloo begin het om wapens soos mortierbomme en aanvalsgewere soos AK-47s en R4-gewere te bekom.

Getuienis blyk dat verkenning gedoen is op die plasing van die ANC-tente op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Daar is beslag gelê op foto’s van die tafelplasings vir senior partylede en regeringsbeamptes, het Abrahams gesê. Abrahams het aan die hof gesê die groep het direk beplan om die land se top leiers in Mangaung te ‘elimineer’.

Die saak is tot 8 Januarie uitgestel. Die mans sal in aanhouding bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Brenda ·

“Die plan was om die eenheid en territoriale sekuriteit van Suid-Afrika te bedreig…” Nou vra ek WATTER EENHEID EN territoriale SEKURITEIT?? Jul speel seker? In SUID-AFRIKA???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.