Mango-vlugte in gedrang oor loongeskil

Die vakbond Solidariteit het Donderdag gewaarsku dat hy die lugdiens Mango se vlugte tot stilstand sal dwing indien daar nie erns gemaak word met die loononderhandelingsproses nie.

ʼn Woordvoerder van Solidariteit, Ilze Nieuwoudt, sê die vakbond en die maatskappy het Donderdag weer swaarde gekruis tydens ʼn konsiliasievergadering by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Benoni. Solidariteit het na afloop van die vergadering ʼn stakingsertifikaat ontvang. Volgens Nieuwoudt kon loononderhandelinge met Mango sedert Augustus nog nie op dreef kom nie, nadat die maatskappy aanvanklik geweier het om enige looneise van die vakbond te ontvang. Solidariteit het gevolglik ʼn geskil met Mango verklaar en dit na die KVBA verwys om te verseker dat die maatskappy wel met hom onderhandel. “Mango het aanvanklik voorgeneem om ʼn tussentydse loonverhoging van 5,6% in te stel tot ʼn loonooreenkoms bereik word, waarna die verskil tot op die ooreengekome verhoging terugwerkend ingestel sou word. Dié aanbod is egter vroeër die week eensydig teruggetrek en dit was die laaste strooi vir Solidariteit se lede by die maatskappy,” verduidelik Nieuwoudt. Volgens Nieuwoudt het Solidariteit reeds in 2010 ʼn erkenningsooreenkoms met Mango gesluit wat die vakbond bedingingsmag verleen om namens sy lede vir onder meer loonverhogings te onderhandel.

Solidariteit verteenwoordig die oorgrote meerderheid van Mango se vlieëniers. “Mango-werknemers is keelvol gewag dat die maatskappy gehoor gee aan kwessies wat nou al maande lank sloer. Benewens die loononderhandelinge wat deur Mango vertraag word, sloer ʼn geskil oor die werknemers se kontrakte sedert Maart,” sê Nieuwoudt. “Alle Mango-werknemers werk op ʼn kontrakbasis en ontvang daarom geen mediese en pensioenvoordele nie. Die gevolg is dat Mango-werknemers nie naastenby op dieselfde vlak as werknemers elders in die bedryf vergoed word nie.” Solidariteit sal nou sy lede nader vir ʼn mandaat vir ʼn moontlike staking. Die vakbond het gewaarsku dat passasiers en besprekingsagente die moontlikheid van ʼn staking deur vlieëniers in gedagte moet hou wanneer hulle vlugte vir November en Desember bespreek. “Solidariteit is egter steeds vasbeslote om ʼn loonooreenkoms te bereik en sal weer op Woensdag, 2 November met die werkgewer vergader om ʼn oplossing te probeer vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.