Mans en vroue gaan saal deel by Weskoppies

Argieffoto

Vroulike pasiënte wat in saal 26 van Weskoppies in Pretoria gehuisves word, is ontsteld nadat hulle nuus ontvang het dat mans ook binnekort in dié saal opgeneem gaan word.

ʼn Pasiënt wat daar behandeling ontvang, maar weens vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, het Maandag aan Maroela Media gesê die saal word hoofsaaklik gebruik om vroue te huisves wat sielkundige afwykings toon soos bipolariteit, depressie en mense met selfmoordneigings. “Die skade is grootliks veroorsaak deur jarelange se seksuele aanranding en verkragtings deur mans, onlangs of toe hulle kinders was,” het die vrou gesê.

Sy sê die uitvoerende hoof het aangekondig dat die saal vanaf 1 Augustus ook manlike pasiënte gaan huisves wat soortgelyke sielkundige afwykings toon.

Die inwoner is veral bekommerd dat mans en vroue die saal gaan deel en dat hulle blootgestel gaan word. “Ons is geregtig op beskerming en privaatheid. Die saal is nie toegerus met genoegsame veiligheid nie. Kamers en toilette kan nie van binne gesluit word nie en die saal is nie toegerus met toiletgeriewe vir mans nie,” het sy gesê

Maureen Mabena, uitvoerende hoof van Weskoppies, het Maandag aan Maroela Media gesê die beplanning om saal 26 ‘n gekombineerde saal vir manlike en vroulike pasiënte te maak, is reeds sedert November 2012 in beplanning. “Die besluit is geneem om pasiënte met gemoedsversteurings meer doeltreffend te behandel. Hierdie tipe pasiënte het dieselfde probleme en hulle baat meer terapeuties in ’n soortgelyke omgewing,” het sy gesê.

Volgens Mabena kon die besluit destyds egter nie deurgevoer word nie, omdat die nodige strukturele, veiligheids- en personeelveranderinge nie in plek was nie. “Die veranderings sluit onder meer in dat daar aparte slaapsale en ablusiegeriewe vir mans en vroue pasiënte is, met sekuriteitshekke waar nodig. Al die nodige aanpassings en verskuiwings is nou ingerig.”

Mabena het gesê manlike en vroulike pasiënte sal net gedurende die dag geriewe soos die eet- en televisiekamer deel. “Daar word van dié week af manlike personeel in die saal opgeneem om te verseker dat daar ten alle tye genoegsame toesig sal wees. Manlike pasiënte sal van môre [Dinsdag] af oorgeskuif word.”

Manlike pasiënte met gemoedsversteurings was voorheen in ‘n saal met pasiënte met akute psigoses gehuisves. Volgens Mabena was dié omstandighede nie ideaal nie.

“Die bestuur het weereens vanoggend ‘n vergadering met die vroue pasiënte in die saal gehou en almal ingelig omtrent die redes vir die samesmelting en ook om die onnodige vrese aan te spreek. Al die pasiënte was na dié vergadering tevrede,” het Mabena bygevoeg.

Weskoppies het ʼn span werkers wat onderneem om deurgaans ondersteuning te verleen en weeklikse vergaderings met die pasiënte te hou om enige probleme wat mag opduik onmiddellik te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jesse ·

Lees tog die artikel reg …Mabena het gesê manlike en vroulike pasiënte sal net gedurende die dag geriewe soos die eet- en televisiekamer deel. In elk geval is dit pasiente wat deur diep waters gegaan het. “Die skade is grootliks veroorsaak deur jarelange se seksuele aanranding en verkragtings deur mans, onlangs of toe hulle kinders was”. Dink nie hulle is lus vir partytjie hou in hulle toestand nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.