Twee mans is dood nadat hulle Sondag in Freedom Park aan die brand gesteek is.
Brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, sê dit wil voorkom of die gemeenskap reg in eie hande geneem het deur die twee mans dood te maak.
“Die polisie het omstreeks 13:00 op die toneel gekom. Die slagoffers was reeds dood. Een persoon was heeltemal verkool. Die ander liggaam was steeds aan die brand en daar was ook ‘n brandende houttafel bo op hom,” het Ngubane gesê.
Volgens Ngubane was daar sowat 500 inwoners op die toneel. “Die inwoners wou die polisie verhoed om die vlamme te blus. Die polisie moes ondersteuning ontbied om beheer oor die toneel te kry.”
Die mans se identiteit kon nog nie bekend gemaak word nie. Hulle is na bewering met paraffien aan die brand gesteek. Die gemeenskap het hulle blameer vir ʼn reeks kriminele misdrywe in die gebied, waaronder ʼn moord.
Die polisie het ʼn moordsaak oopgemaak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.