Mans probeer wildbewaarder glo oorreed om te stroop

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn wildbewaarder by die Kruger Nasionale Park wou oorreed om ʼn renoster te stroop.

“Die twee mans, 35 en 39 jaar oud, het ʼn wildbewaarder glo in die park voorgekeer en hom gevra om ʼn renoster te stroop, aangesien dit vir hom “makliker” sou wees om dit te doen, het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie in Limpopo, gesê. “Die bewaarder het ingestem, maar gesê hulle hoef nie vir hom ʼn vuurwapen te bring nie, hy sal sy amptelike vuurwapen gebruik.”

Die wildbewaarder het toe met die polisie in verbinding getree.

ʼn Ontmoeting tussen die wildbewaarder en die mans is by Plange naby Malamulele gereël waar die polisie die 39-jarige man Sondagaand in hegtenis geneem het. Die polisie het ook op ʼn jaggeweer en ʼn motor beslag gelê.

Die 35-jarige man het na ʼn huis van een van die vroue in die dorpie gehardloop. Sy het lede van die gemeenskap in kennis gestel wat die man toe aangerand het. Hy is in ʼn ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.

“Die 39-jarige man sal Dinsdag in die landdroshof in Malamulele verskyn vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en sameswering om ʼn misdaad te pleeg,” het Otto gesê. “Die 35-jarige man sal in die hof verskyn sodra hy voldoende van sy beserings herstel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.