Mans skuldig bevind wat pa voor vrou, kinders skiet

Dawie Maree

Dawie Maree

Die Pretoriase hooggeregshof het Donderdag bewerings verwerp dat “rassistiese wit polisiebeamptes” twee swart mans glo vals wou beskuldig vir die moord op Dawie Maree, ʼn sakeman van Pretoria.

Regter Tshifiwa Maumela het Marabe Talane (39) en Rodney Katang Masemola (35) skuldig bevind aan die moord wat in Mei 2008 plaasgevind het. Maree (27) is voor sy vrou, Elana, en twee jong kinders (in daardie stadium ʼn dogtertjie van twee jaar oud en ʼn seuntjie van 11 maande oud), noodlottig gewond tydens ʼn struweling met ʼn gewapende aanvaller in sy huis. Hy is in sy rug geskiet. Die doodskoot is by sy rug in, het sy borskas binnegedring en is by sy keel uit. Hy is by die hospitaal dood verklaar.

Masemola is ook tydens die voorval in sy maag geskiet en die twee mans se medepligtige, Martin Tshebesebe is tydens die voorval doodgeskiet.

Maumela sê dit is nie duidelik uit die bewyse wie vir wie geskiet het nie, maar dit is duidelik dat die skietery gevolg het nadat Masemola en Tshebesebe die gesin se eiendom onwettig betree het. Hy sê die verdagtes moes geweet het iemand kan seerkry en sterf, insluitend een van hulle, en hulle is krimineel aanspreeklik vir altwee mans se dood.

Masemola se getuienis, dat hy en Tshebesebe onder ʼn boom gestaan het toe Maree by die huis uit gestorm en hulle geskiet het, waarna Elana glo ook by die huis uit gekom en ʼn skoot afgevuur en toe haar man doodgeskiet het, is ook verwerp. Maumela sê dit is onwaarskynlik dat Maree se vrou, wat klein gebou is, haar beseerde man en Tshebesebe se liggame na die slaapkamer toe sou kon sleep, waar ʼn buurman hulle kort daarna aangetref het. Daar was geen bewyse van sleepmerke of bloed buite die huis nie.

Hy het die beskuldigde se bewering, dat wit polisiebeamptes saamgesweer het en die gesin gehelp het om die toneel te rekonstrueer, as onwaarskynlik afgemaak. Volgens dié teorie sou die polisielede maande lank met ʼn boutsnyer moes rondry, wag vir Masemola om van sy beserings te herstel, en die gereedskapstuk dan in sy kamer moes versteek.

Altwee mans is skuldig bevind op aanklagte van huisbraak en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die mans se advokaat, Paul Shapiro, het gesê sy kliënte sal aansoek doen om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding. Hy voer aan die twee moet die “domste diewe in die geskiedenis van Suid-Afrika wees” omdat hulle die huis en kluis oopgebreek het, maar slegs ʼn selfoon, horlosie en oorbelle gebuit het. “Ek wil nie die erns van die oortreding afmaak nie, maar op die spektrum van oortredings is daar baie erger,” het Shapiro gesê.

Die hofsaak is tot 24 Maart volgende jaar uitgestel vir vonnisoplegging.

Maree se vrou, Elana van Breda (sy het intussen weer getrou) het Donderdag regdeur die hofverrigtinge sit en huil. Sy sê sy voel verlig dat haar man se moordenaars uiteindelik skuldig bevind is, maar die feit dat hulle appèl wil aanteken vryf sout in die wonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

fransie ·

Die advokaat van die beskuldigdes behoort te weet in ons liewe land word jy doodgenmaak omdat jy asemhaal nie noodwendig vir roof nie – word wakker my ou !!!

Gerhard ·

Ek, soos almal, sou graag wou weet waar in Pretoria die voorval was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.