Mans vas ná hul agt gesteelde skape in klein bakkie prop

Konstabel Sampi Mphore en sersant Moratei Korope by die bakkie met skape.

Drie mans is Saterdag in hegtenis geneem nadat agt gesteelde skape, waarvan twee dood was, in hul besit gevind is. Hulle het die skape agterop ʼn klein bakkie vervoer.

Adjudant-offisier MD Khosana, ʼn Vrystaatse polisiewoordvoerder, het Maandag gesê beamptes van die Ventersburg-polisie het die mans Saterdagoggend in hegtenis geneem.

“Twee beamptes, konstabels Sampi Mphore en Malefetsane Makhoba, het die N1-pad patrolleer en ʼn verdagte wit Nissan-bakkie gewaar wat van Kroonstad na Winburg onderweg was,” het Khosana gesê.

Die bakkie het drie insittendes gehad en die agterkant van die bakkie was met ʼn swart oortreksel toegemaak. Agt skape was in die agterkant ingeprop. Twee daarvan was dood.

“Die verdagtes is oor die skape uitgevra. Hulle kon nie eienaarskap van die skape bewys nie en hulle is vir vermeende veediefstal in hegtenis geneem.”

Polisiebeamptes van die Odendaalsrus-veediefstaleenheid het bevestig dat die skape van die plaas, Roodekop, naby Kroonstad gesteel is.

Die verdagtes moet binnekort in die landdroshof in Ventersburg verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.