Mans verskyn in hof oor beweerde satanistiese ritueel, saak uitgestel

Die saak van vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle tydens ʼn beweerde satanistiese ritueel brandstof oor twee meisies uitgegooi en hulle aan die brand gesteek het, het Dinsdag vlugtig in die Johannesburg landdroshof verskyn.

Landdros Lucas van der Schyff het die saak uitgestel tot 1 November vir verdere ondersoek. Die vier mans sal by die Booysens-polisiestasie gehou word waar DNS-toetse gedoen sal word. Die mans word aangekla van poging tot moord. Die staatsaanklaer, Coleen Ryan, sê die klagte kan moontlik na moord verander word. Die vier mans is Lindon Wagner (21), Robin Harwood (18), Lester Moody (18) en Jeremy King (18). Die mans was glo deel van ʼn groep vriende wat Vrydagnag in die koppies naby Rosetenville, suid van Johannesburg gesit en kuier het. Van die mans het glo later die aand die twee meisies se hande vasgebind en later brandstof oor hulle uitgegooi en hulle aan die brand gesteek. Kirst Theologo (18) se longe en lugpyp is ernstig gebrand en sy het verskeie brandwonde aan haar lyf opgedoen. Haar vriendin Bronwyn Grammar (16) het haar blykbaar probeer help en het ook brandwonde opgedoen. Twee van die mans het hulself Sondag by die Booysens-polisiestasie oorgegee terwyl die ander twee mans hulle Maandagmiddag oorgegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.