Mans vrygespreek van beskuldigings dat hulle laserlig in vlieëniers se oë skyn

Die beskuldigdes in die Bloemfonteinse laserlig-saak is Maandaggend in die stad se landdroshof vrygespreek.

OFM berig die 40-jarige Theunis le Grange, 21-jarige Albertus Niewoudt en ‘n tienerseun was daarvan beskuldig dat hulle tydens die ANC se Eeufeesvieringe vroeër vanjaar ‘n laserlig in die oë van vlieëniers geskyn het.

Herman van Vuuren, die twee mans se regsverteenwoordiger, het gesê vertoë is aan die Direktoraat vir Openbare Vervolging gerig, waarna die saak uitgegooi is. Van Vuuren het gesê beeldmateriaal van sowat 15 minute is in die hof gespeel, waar dit duidelik is dat die 15-jarige seun drie keer vir ‘n sekonde lank ‘n laserlig in die hemelruim ingeskyn het.

Hy het gesê die saak is laat vaar omdat daar nie beduidende getuienis teen La Grange en Niewoudt was nie.

Die seun is vroeër vanjaar deur ‘n hof gelas om spesiale jeugprogramme te volg. Van Vuuren meen die erns van dié tipe oortredings is deur hierdie saak benadruk.

Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die skyn van laserligte kan ‘n vlieënier verblind en gedisoriënteerd laat, wat die vliegtuig kan laat neerstort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.