Robin Bothma, die eienaar van ʼn gewilde kuierplek in Margate, is Vrydagaand in sy huis in Uvongo deur rowers doodgeskiet. Robin het die nagklub, Koko’s, besit en het ook verskeie ander besighede aan die Suidkus bedryf.
Lt.kol. Zandra Wiid, ʼn polisiewoordvoerder van die Port Shepstone-polisie, het gesê Robin en sy vrou, Jill, was Vrydagaand saam vriende uit en het omstreeks 22:30 by die huis gekom. Twee gewapende rowers het hulle glo oorval. Die rowers het op die egpaar se kluis se sleutels aangedring. Robin het die paniekknoppie gedruk, waarna een van die rowers hom in sy kop geskiet het. Robin is op die toneel dood. Die mans het met ʼn selfoon gevlug.
Wiid het Dinsdag gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en ʼn saak van moord word ondersoek.