“Marikana lê polisie lam” sê AfriForum

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Onrus in Marikana, Augustus 2012

AfriForum het Donderdag ʼn formele versoek aan die nasionale polisiekommissaris, Generaal Riah Phiyega, gerig om ʼn plan van aksie op te stel wat duidelik stipuleer hoe die SAPD gemeenskappe en staatsbates se veiligheid teen stakers gaan verseker. Hierdie versoek is gerig omdat die Marikana-skietvoorval blykbaar daartoe gelei het dat die polisie nie meer teen gewelddadige stakers wil optree nie.

“Dit is asof Marikana die polisie bang gemaak het en nou tree niemand op teen stakers nie. AfriForum wil weet hoekom stakers oogluikend toegelaat word om gewelddadig te raak en skade aan te rig. Ons wil ook weet hoeveel van hierdie misdadigers vervolg word,” het Ian Cameron, AfriForum-woordvoerder gesê.

Volgens AfriForum het gewelddadige betogings ʼn algemene tendens in Suid-Afrika geword. AfriForum het gesê dat skade aan staats- en privaatbates belastingbetalers se verpligting word. Die SAPD moet strenger beheer op stakers toepas en die sosiale welstand in die land verseker.

Tydens die afgelope jaar se stakings deur onder andere mynwerkers, petroljoggies, veiligheidswagte en vragmotorbestuurders is Suid-Afrika se ekonomie en sosiale welstand toenemend onstabiel gemaak.

Cameron het verduidelik dat vakbonde soos AMCU politieke ideologieë gebruik om ʼn oorhand oor die polisie te kry.

Die webwerf van Crime Stats SA toon aan dat daar die afgelope jaar 1 782 sake van openbare geweld by die polisie aangemeld is. Dit is die hoogste sedert 2004 waar net 979 aangemeld is. “Sedert 2009 is daar ’n drastiese toename in openbare geweld wat wys dat die polisie nie openbare dissipline kan handhaaf nie. Dit is noodsaaklik dat die polisie wet en orde bly handhaaf. As die polisie gaan optree en ʼn presedent skep vir die toekoms sal individue, partye en unies twee keer dink voordat geweld aangemoedig word,” het Cameron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bileam se donkie ·

Wat n skande,stakers breek en verwoes,verwoes die land se ekonomie,word deur toordokters imuun verklaar teen koeels,bestorm die polisie,om dood te maak,en as hulle dan geskiet word,word die polisie kwalik geneem,wat n belaglikheid,goed so Afriforum,roer n bietjie terwille van geregtigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.