Die bestuur van die Lonmin-platinummyn in Marikana, Noordwes, het Dinsdag gesê dat nagenoeg 6 000 werkers hul gereedskap neergelê en weer begin staak het.
Sue Vey, die myn se woordvoerder, sê die werkstilstand vind by die Newman- en Saffyskag plaas. “Die werkers het vanoggend vir werk opgedaag, maar nie ondergrond gegaan nie. Ons dink in dié stadium dat die voorval verband hou met Amcu wat die meerderheid erkenningsooreenkomste vereffen wil hê,” het Vey gesê.
Die mynbestuur en verskeie vakbonde vergader Dinsdagmiddag om die kwessies aan te spreek.
Dié onwettige werkstilstand volg skaars sewe maande na ‘n voorval by die myn waartydens 34 myners tydens gewelddadige botsings met die polisie doodgeskiet is.