Marikana-sangoma: Geweer het dalk aan polisie behoort

Argieffoto van ‘n R5-aanvalsgeweer

‘n R5-aanvalsgeweer wat gebruik is om ‘n sangoma dood te skiet wat rituele op Marikana-mynwerkers uitgevoer het, is vir toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bepaal.

“Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die R5 aan een van die twee polisiebeamptes behoort het, wat in Augustus verlede jaar tydens die staking deur Lonmin-mynwerkers vermoor is,” het Makhosini Nkosi, woordvoerder van die polisie, Dinsdag gesê. “Die polisie ondersoek die moontlikheid. Dit is nog nie bevestig nie. Ballistiese toetse sal gedoen word.”

Alton Joja (69), die sangoma, was 24 Maart by sy huis in die Ludeke Holt Village in Mbizana toe vyf gewapende mans sy erf betree het. Hulle het hom geskiet toe hy hulle motor genader het en gevra het waarna hulle op soek is. Hulle het van die toneel gevlug. Hul motor is later verlate en uitgebrand opgespoor met die geweer binne-in. Joja is met aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die Farlamkommissie van Ondersoek oor die Marikana-moorde het verlede maand aangehoor dat Joja glo rituele op stakende mynwerkers uitgevoer het voor die skermutseling op 16 Augustus waartydens 34 mynwerkers doodgeskiet is.

Die polisie het probeer om die sangoma te oorreed om voor die Kommissie te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.