Marikana-sangoma glo weens taxi-geweld vermoor

Argieffoto van ‘n R5-aanvalsgeweer waarmee die sangoma doodgeskiet is.

Die sangoma wat vermoor is voor hy by die Farlamkommissie van Ondersoek moes getuig oor die rol wat hy in die Marikana-bloedbad gespeel het, is glo weens taxi-geweld doodgeskiet.

ʼn Taxibaas het glo tydens die sangoma se begrafnis gesê sy dood hou nie verband met die Marikana-voorval nie, het die Dispatch Online Maandag berig.

Die sangoma, Tat’uNdzabe (Alton ‘Ndzabe’ Joja), is Saterdag in Ludeke Holt in Bizana, naby Port Edward in die Oos-Kaap begrawe. “Mnr. Joja lê hier as gevolg van ons, hy is vermoor deur mense in ons bedryf,” het Ntsikelelo Gaehler, die president van die Uncedo taxivereniging, gesê.

Joja (69) was op  24 Maart by sy huis in die Ludeke Holt Village in Mbizana toe vyf gewapende mans sy erf betree het. Hulle het hom geskiet toe hy hulle motor genader het en gevra het waarna hulle op soek is. Hulle het van die toneel gevlug. Hul motor is later verlate en uitgebrand opgespoor met die vuurwapen binne-in. Joja is met aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Gaehler het glo ʼn week voor die skietery ʼn oproep van Joja ontvang wat hom meegedeel het dat geld ingesamel word deur mense in die taxibedryf, om hom te vermoor. “Dit is verkeerd om sy familie, die gemeenskap en die polisie onder die indruk te plaas dat sy moord verband hou met Marikana, terwyl ons weet sy dood hou verband met taxi-geweld,” het Gaehler gesê.

Die Farlamkommissie van Ondersoek oor die Marikana-moorde het verlede maand aangehoor dat Joja glo rituele op stakende mynwerkers uitgevoer het voor die skermutseling op 16 Augustus waartydens 34 mynwerkers doodgeskiet is.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.