Marikana se vermiste miljoene word ondersoek

Drie ondersoeke in Noordwes kan moontlik aan die lig bring dat miljoene in myntantieme, wat aan die gemeenskap naby Marikana betaal moes word, verduister is, het die Sunday Independent berig.

Volgens die koerant word daar reeds sedert 1994 buit gemaak op die rekening, waar maatskappye, soos Lonmin, myntantieme inbetaal vir gemeenskappe op wie se mineraalryke grond hulle myn. Nagenoeg R450 miljoen is glo uit die rekening geskuif. Die rekening behoort aan die Bapo ba Mogale, wat die grond besit waarop Lonmin se Marikana-myn aktief is. Die rekening is glo sedert die val van die Bophuthatswana-regering nog nie geoudit nie.

Volgens die Sunday Independent word die ondersoek deur die staande komitee op publieke rekeninge (Scopa), premier Thandi Modise en die openbare beskermer, Thuli Madonsela, gedoen.

Die koerant berig dat geld, wat in die rekening inbetaal is, in trust gehou is deur die Noordwes provinsiale regering, en dat die premier die kurator van die rekening is. “Die premier is bewus van die probleem met daardie rekening, dit is waarom sy haar eie ondersoek van stapel gestuur het,” het Lesiba Kgwele, woordvoerder vir Modise, gesê.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.