Marikana-verhoor duur dalk tot 2014

Stakende mynwerkers by Lonmin verlede jaar. Foto: Taurai Maduna/EWN

Prokureurs van die verhoor oor die onrus by Marikana is bekommerd dat die verrigtinge tot 2014 uitgerek gaan word, het die Farlam-kommissie van Ondersoek Donderdag gehoor.

Schalk Burger, prokureur vir Lonmin-myn, het aan die kommissie gesê dat dit moontlik nog agt maande kan duur voordat al die getuienis aangehoor is. “Dit beteken dat fase twee van die kommissie eers in 2014 sal begin,” het Burger gesê. Hy het by die verhoor in Rustenburg gepraat.

Die kommissie ondersoek die afsterwe van mense in Marikana toe polisiebeamptes glo 34 stakende mynwerkers op 16 Augustus doodgeskiet het. Tien mense is die vorige week gedood.

Burger het dié besware aangeteken nadat maj.gen. Charl Annadale sy hoofgetuienis Donderdag gelewer het. Annandale was die hoof van die spesialetaktiek-taakspan in Marikana. Hy het sy getuienis gelewer, onder leiding van Ishmael Semenya vir die SA Polisiediens. Sy getuienis het vier dae lank geduur.

Burger sê die wyse waarop die hoofgetuienis en kruisverhoor tot nou toe hanteer is, dra by tot die vertraging. Hy het dit benadruk dat die vertraging in hofverrigtinge onregverdig is jeens alle betrokke partye. “Dit is onregverdig teenoor die families. Dit verleng hul pyn en hul finansiering word bedreig,” het Burger bygevoeg. Hy voer aan dit is onregverdig teenoor die SAPD, die Lonmin-myn en die publiek wat wag op die uitslag van die kommissie.

Een van die prokureurs vir die myners wat in hegtenis geneem en beseer is, Muzi Msimang, het gesê hulle word ook negatief beïnvloed hierdeur, aangesien die prokureurs nie vir hul dienste betaal word nie. “Ons werk sonder om betaal te word. En as ons onttrek, sal ons kritiseer word,” het hy gesê.

George Bizos vir die Regshulpsentrum en die Bench Marks Foundation het ook sy beswaar aangeteken. “Ons hulpbronne is beperk,” het Bizos gesê.

Die kommissie moes al in Januarie sy proses afgehandel het. ʼn Uitstel is tot einde Mei toegestaan.

Afgetrede regter Ian Farlam, voorsitter van die kommissie, het voorgestel dat die prokureurs die saak bespreek en met ʼn voorstel kom.

Farlam het vroeër tydens die verrigtinge gesê Dali Mpofu, vir die beseerdes en myners wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Vrydag by die kommissie aansluit. Mpofu was die afgelope drie weke afwesig nadat hy in ʼn beweerde diefstal in Oos-Londen met ʼn skerp voorwerp gesteek is.

ʼn Moontlikheid om die kommissie van Rustenburg na Pretoria of Johannesburg te skuif sal Vrydag bespreek word. Mpofu het dié voorstel reeds in Februarie gemaak, en bygevoeg dat hy en sy span ʼn noemenswaardige bedrag geld en tyd aan vervoer moet spandeer.

Karabo Kgoroeadira vir die Bapo ba Mogale-gemeenskap het dié voorstel teengestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.