Massa-betoging by TUT beplan

Betogers buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi, Twitter

Betogers buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi, Twitter

ʼn Massa-betoging word Maandag in Pretoria by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) beplan.

“Ons verwag nagenoeg 15 000 studente,” het Mboniseni Dladla, president van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), Donderdag gesê. “Alle kampusse het ingestem om mekaar Maandag by die Pretoria-Wes-kampus te ontmoet.”

Die universiteit het alle klasse Woensdagoggend by die kampus opgeskort toe betogende studente bande buite die hek aan die brand gesteek het. Hulle betoog oor ʼn tekort aan finansiering van die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS).

Die TUT was Donderdag steeds gesluit ondanks ʼn aankondiging deur die bestuur dat klasse sou hervat.

Dladla het studente aangesê om hulself vir Maandag voor te berei. “Ons het ons memorandum vir hulle [die bestuur] gegee, en as ons nie teen Vrydag ʼn antwoord kry wat al ons kwessies aanspreek nie, sal ons betoog.”

Blade Nzimande, minister vir hoër onderwys, het Donderdag aangekondig dat R1 miljard by NSFAS bygevoeg sal word. “My departement het ʼn addisionele bedrag van R1 miljard uit die nasionale vaardigheidsfonds beskikbaar gestel om die 2013 en 2014-tekortkoming aan te spreek,” het Nzimande in Pretoria aan verslaggewers gesê. Hy sê NSFAS het in 2013 ʼn tekort van R2.6 miljard gehad. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ant ·

Ek onthou die goeie tye wat ek as student by hierdie kampus gehad het. Dit was veilig en daar was altyd ‘n opgewondenheid in die lug, alhoewel ons almal verwag het dinge sou in die toekoms verander. Ek was onlangs weer daar en was verbaas oor die verval en onder andere die dik koeelvaste glas vensters by die betaal kantore. Hierdie foto met die vlamme in die agtergrond breek my hart, en mens wonder onwillekeurig; Waar gaan dit heen? of moet ons die vergangklikke wereld maar minder belangrik ag in ons mens wees. Sterkte vir ons kinders… die wat hier sal bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.