Massa-verassings in Indië gereël ná vloede

Reddingspogings in Indië

Militêre helikopters en soldate poog steeds om duisende mense, wat weens vloede in Indië vasgekeer is, te red, terwyl die regering reeds massa-verassings vir die slagoffers beplan.

Vloede en grondverskuiwings weens swaar reën op 15 en 16 Junie het tot grootskaalse vernietiging gelei. Huise, paaie en brûe is deur modder en puin vernietig. Klik hier vir foto’s van die vloed.

Buiten plaaslike inwoners is pelgrims en toeriste ook deur die vloede geraak.

“Lug-ontruimings het hervat om meer as 6 000 mense, wat naby Badrinath vasgekeer is te red, ná swaar reën deur die nag,” het brig. Uma Maheshwar, woordvoerder van die weermag, gesê. ʼn Beampte van die rampbestuureenheid het gesê Badrinath is van die laaste gebiede waar mense steeds vasgekeer is. Hulle verkeer nie in onmiddellike gevaar nie, aangesien hulle in verligtingskampe gehou word met toegang tot kos en water.

Massa-verassings vir diegene wat omgekom het in die gebiede, wat die ergste getref is, veral naby Kedarnath, sal Woensdag begin, berig NDTV. Talle liggame is naby die altaar in Kedarnath gestapel en is besig om te ontbind, wat kommer oor die uitbreek van siektes verhoog. Foto’s word geneem van die slagoffers en DNA-monsters word geneem om later deur die families uitgeken te word.

Meer as 680 mense is dood weens die reën, wat glo die ergste in 80 jaar was. Minister Sushil Kumar Shinde het egter aangedui die dodetal kan tot meer as 1 000 styg nadat die puin verwyder is. Sowat 97 000 mense is tot dusver gered.
Outeur: Siddhartha Kumar, SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.