Massamoord: Juffrou red ‘n hele klas vol Gr. 1s

Victoria Soto

Victoria Soto, een van die onderwysers wat in die skiettragedie by die Sandy Hook Elementary School in Newtown, Connecticut gesterf het, word as ‘n heldin gekroon nadat sy haar hele klas gered het.

Die 20-jarige Adam Lanza (foto onderaan die berig) het Vrydag, 14 Desember by die skool ingestap en 20 kinders en ses volwassenes doodgeskiet voordat hy selfmoord gepleeg het. Die dag ná die voorval het talle mense hul meegevoel betoon met die families en vriende wat geliefdes in die voorval verloor het. Die foto van die 27-jarige Victoria Soto het soos ‘n veldbrand op sosiale media begin versprei.

Dié heldin het haar lewe gewaag om haar leerlinge te beskerm. Sy het haar klas vol graad 1s in kaste laat wegkruip toe sy die skote gehoor het. Toe die skieter by haar klas ingestorm het, het sy gesê die studente is in die gimnasium. Hy het haar doodgeskiet en verder in die gang af beweeg. Sy het haar hele klas vol leerlinge gered.

“Sy het haar kinders voorop gestel. Hulle is al waaroor sy ooit gepraat het,” het haar vriendin Andrea Crowell aan International Business Times gesê. “Sy wou vir hulle die beste gee, om hulle elke dag iets nuut te leer.”

Lanza het glo ook sy ma, Nancy Lanza, vermoor voordat hy by die skool opgedaag het. Hy het haar glo ‘n hele paar keer in die kop geskiet. Al drie vuurwapens, twee handwapens en ‘n .223 Bushmaster-geweer, wat Lanza by hom gehad het, het aan sy ma behoort. Lanza het homself ook doodgeskiet toe die eerste polisiebeamptes opgedaag het.

Adam Lanza

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.