Matrieks: “Kry verdere opleiding of soek werk”

matrieksByna een uit elke drie jong Suid-Afrikaners werk nie en is ook nie met opleiding besig nie. Die vakbond Solidariteit het Maandag, kort voor die bekendmaking van die matriekuitslae van 2013, jong mense aangeraai om verdere opleiding te kry of werk te soek. Volgens ʼn verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor werksvooruitsigte vir matrieks, is die Suid-Afrikaanse arbeidsmark steeds onvriendelik teenoor jong mense, selfs al het hulle ʼn matrieksertifikaat verwerf.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI en samesteller van die verslag, sê jong mense moet nie onder die wandindruk verkeer dat hulle direk na skool ʼn werk wat goeie vergoeding bied, gaan kry nie. “Natuurlik word niemand hiermee afgeraai om wel vir werk, énige werk, te soek nie aangesien enige werksondervinding ʼn persoon se kanse om in die toekoms ʼn beter werk te kry, verhoog. Die beste opsie bly egter om verdere opleiding te kry.”

Joubert sê dat die rede waarom soveel mense met matrieksertifikate sukkel om werk te kry, of min verdien indien hulle wel werk kry, deels is dat hulle eenvoudig nie die regte vakke het of die vereiste prestasie in die regte vakke behaal het nie. “ʼn Baie klein aantal matrikulante behaal jaarliks goeie uitslae in sleutelvakke. In 2012 het slegs 21 149 matrieks 60% of hoër in Rekeningkunde behaal, slegs 30 355 het 60% of hoër in Wiskunde behaal, en slegs 25 640 het 60% of hoër in Fisiese Wetenskap behaal.”

Volgens die verslag het slegs 50% van mense met ʼn matrieksertifikaat as hoogste kwalifikasie werk. “Dit is maar ʼn skrale verbetering op die 30% van mense met geen opleiding nie wat werk het. In teenstelling hiermee het sowat 80% van mense met een of ander tersiêre kwalifikasie werk. ʼn Matrieksertifikaat verbeter dus wel ʼn persoon se kans om werk te hê, maar dit is ʼn tersiêre kwalifikasie wat ʼn persoon se kans om werk te hê aansienlik verbeter.”

Joubert sê tersiêre opleiding verhoog boonop potensiële verdienste omdat ʼn persoon met meer kennis, en die vermoë om daardie kennis toe te pas, meer waarde kan toevoeg. “Die menslike samelewing is op kennis gebou – dit is die bron van vooruitgang en verbeterde lewensomstandighede. Mense met die kennis om ʼn verdere bydrae tot hierdie verbetering te maak, sal altyd daarvoor vergoed word. Die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika is dus nie verbasend teen die agtergrond van ʼn moderne kennisekonomie nie, aangesien nie eens 13% van die volwasse bevolking oor tersiêre opleiding beskik nie.”

Volgens die verslag het bykans 30% van werkende mense met matriek as hul hoogste kwalifikasie in 2011 meer as R6 400 per maand verdien, en meer as 13% het hoër as R12 800 per maand verdien. Onder werkende mense wat matriek plus ʼn sertifikaat of diploma het, het 50% ʼn inkomste van hoër as R6 400 per maand verdien. Meer as 30% se inkomste was hoër as R12 800 per maand en 9,1% het meer as R25 600 per maand verdien. Die volgende groep, mense met universiteitsgrade, hoër diplomas of gelykwaardige kwalifikasies, toon die grootste sprong in inkomstevlakke. Byna 80% van hierdie groep het in 2011 meer as R6 400 per maand verdien. Meer as die helfte het hoër as R12 800 per maand verdien, en byna ʼn kwart het meer as R25 600 per maand verdien. ʼn Beduidende 7% het selfs meer as R51 200 per maand verdien.”

As alternatief vir wanfunksionele staatskolleges het Solidariteit in 2006 ʼn privaat tegniese kollege, Sol-Tech, gestig. Die onderrigmedium is Afrikaans en die kollege lei elke jaar ongeveer 1 000 vakleerlinge as elektrisiëns, meulmakers, passer-en-draaiers en dieselwerktuigkundiges op. Die kollege het ʼn slaagsyfer van meer as 95%. Solidariteit het ook ʼn nuwe opleidingsinstansie, Akademia, opgerig wat met ʼn telematiese stelsel kursusse in ander vakrigtings vanaf ʼn sentrale kampus na ander dele van die land uitsaai. Die onderrigmedium is Afrikaans. Solidariteit se uiteindelike doelwit is om ʼn nuwe kampus in Pretoria te bou waar ʼn uitgebreide Sol-Tech en Akademia gehuisves sal word.

Kliek hier om die 2013-matriekverslag af te laai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rene Nel ·

Stuur asb vir my inligting m.b.t. instansies vir opleiding vir ons jong mense. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.